‘n Wedergebore Christen kan nie weer “onwedergebore”
word of verlore gaan nie (Joh. 6:39. 10:27-29), net so min
as wat ‘n fisiese geboorte ongedaan gemaak kan word.
Wanneer ons wedergebore word, ontvang ons die Heilige
Gees - Joh. 3:8. Hy verlaat ons nooit weer nie.
By vervulling met die Gees is dit egter heeltemal ‘n ander
saak. Paulus waarsku die Galasiërs in Gal. 3:3: “Julle het
met die Gees begin; wil julle nou in eie krag eindig?”
Wanneer hy vir die Efesiërs sê “laat julle met die Gees
vervul”, kan dit ook vertaal word met “laat die Gees julle
voortdurend vervul”, of “bly met die Gees vervul.”
Vervulling met die Heilige Gees is ‘n proses wat met jou
wedergeboorte begin en dan voortgaan vir die res van
jou lewe na die mate wat jy aan die Gees gehoorsaam is,
en jou hele lewe onder sy beheer plaas. Hierdie proses is
nie stagnant nie.
Ons lees in die Bybel dat Paulus en Petrus meer as een
keer deur die Heilige Gees vervul is – Hand. 2:4, 4:8, 4:31,
9:17, 13:9.
Wat verhinder vervulling met die Heilige Gees?
Daar is net een faktor wat dit verhinder. Ek self.
Dit is die eie ek, die vlees, die ou mens, die sondige natuur,
wat ons self weer kans gee op ons lewe. Ons self doen dit!
Die Bose is daarop uit om “die self” in jou te laat heers.
Dan raak jy behep met selfbejammering, selftevredenheid,
selfbewustheid en selfverheffing.
Selfbewustheid is die teenoorgestelde van vrymoedigheid.
Dit neem die vrymoedigheid weg wat die Gees gee.
Wat die Gees gee is “self-onbewustheid”,
of “Jesus bewustheid.”
Ander slaggate is selfverdediging, selfverheffing en
selfregverdiging.
Ons moet ook versigtig wees om ongeduldig en krities te
raak oor die “lou” Christene en “dooie kerk”. Ons was ook
daar waar ons sê “hulle” nou is. Ons is bloot deur die Here
se genade “waar ons nou is”. Ons is self nog nie “in die hemel”
nie! Paulus sê: “Broers, as iemand in een of ander sonde val,
moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees
van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in
versoeking kom. Dra mekaar se laste, en gee op die manier
uitvoering aan die wet van Christus” – Gal 6:1-2.
Wat verhinder verder die vervulling met die Gees?
“Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie.” –
1 Tess. 5:19.
Ons kan dit bewustelik of onbewustelik doen. Ons kan maklik
gefokus wees op ons eie emosies in die vervulling deur die
Heilige Gees. Dan gaan dit ook oor “die ek”.
Ons moet onthou: ons word deur die Heilige Gees vervul ter
wille van God, en nie ter wille van onsself in die eerste plek nie.
Vervulling deur die Gees is nie om jouself te dien nie,
maar juis om diensbaar te wees aan jou medemens,
en bo alles aan die Here!
Wat is dus riglyne vir blywende vervulling met die Heilige Gees?
Môre meer hieroor. Intussen: “...laat die Gees julle vervul!” –
Ef. 5:18.
Ernest