Paulus gee die volgende riglyne vir blywende
vervulling deur die Heilige Gees:
Eerstens – Gal.5:16: “Laat julle lewe deur die Gees
van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor
begeertes van julle sondige natuur nie.” Die 1953-
vertaling het gesê: “Wandel deur die Gees.”
Dit beteken dat jy jou daaglikse handel en wandel
voortdurend aan die Heilige Gees oorgee en Hom
vertrou om oorwinning oor sonde te skenk en jou
te laat groei in heiligmaking. Jy bly gefokus op die
Heilige Gees wat in jou woon en deur jou werk,
diep onder die besef dat Hy in beheer is van elke
situasie.
Tweedens – 1 Kor. 9:27: “Maar ek oefen my liggaam
en bring dit onder beheer.” Hiermee sinspeel Paulus
op die selfdissipline wat alle gelowiges moet beoefen
om die Here te dien en om van Hom afhanklik te wees,
om vervul te bly deur die Heilige Gees. Dit behels
stil-tyd saam met die Here. Die lees van die Bybel en
gehoorsaamheid aan die wil van God. Die Gees praat
juis deur die Woord!
Derdens – Rom. 8:26-27: “Die Gees staan ons ook in
ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort
te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met
versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. En God,
wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van
die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir
die gelowiges.” Hierdie is ‘n baie belangrike teks wat
beklemtoon dat ons onsself moet dissiplineer om regtig
tyd in gebed deur te bring. Die Heilige Gees wil ons
hiermee help! Hy wil ons help om te bid! Die diepte van
jou verhouding met God lê hier! Hier vind vervulling met
die Heilige Gees veral plaas! Gebed speel ‘n onmisbare
rol wanneer jy “in die Gees wandel.”
Vierdens – die Hebreërs skrywer maan in 10:25:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente
wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar
eerder aanmoedig om daarheen te gaan, en dit des te
meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.”
Die gelowige leef nie op ‘n eiland nie. Medegelowiges
het mekaar nodig aangesien die Gees deur alle
gelowiges werk en die Gees jou ook daarin wil lei en
versterk. Daarom bid ons ook sáám vir vervulling deur
die Heilige Gees. Onthou Gal. 6:1-2: “Broers, as iemand
in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur
die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van
sagmoedigheid reghelp...Dra mekaar se laste...”
Ons kan nie hieraan gehoor gee as ons nie leef as deel
van Christus se gemeente nie. Die Here wil sy gemeente
bou “...deur julle wat julle deur die Gees laat lei...”
Word elke dag opnuut deur die Gees vervul deur jou
elke dag opnuut aan Hom oor te gee en jou tot die Gees
se beskikking te stel. So sal jy ook, deur die krag en
leiding van die Gees, waak teen die insluiping van sonde
in jou lewe. Jy moet jouself elke dag opnuut verloën, jou
kruis opneem, en Jesus volg. So sal jy in die Gees wandel.
Paulus se raad aan Timoteus is:
“Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die
Heilige Gees wat in ons woon” – 2 Tim. 1:14.
Moenie hieroor sit en wonder nie: “Just do it!”
Ef. 5:18: “...laat die Gees julle vervul!”
Ernest