Deur die vervulling deur die Gees,
ontvang ons ook die gawes van die Gees.
Paulus wil hê ons moet hieroor ingelig wees –
1 Kor. 12:1.
Die Heilige Gees gee gawes aan gelowiges om
hulle te help om vir God diensbaar te wees.
Die Heilige Gees gee ‘n verskeidenheid van
genadegawes soos Hý wil. Uit 1 Kor. 12:4 is dit
duidelik dat genadegawes, bedieninge, en
werkinge drie verskillende benaminge is vir
dieselfde saak. Dit word deur die Gees uit genade
en guns gegee aan die ontvanger daarvan, let wel,
om die gemeente daarmee te gaan dien!
Tot eer van God!
Daarom word dit ook bedieninge genoem.
Bedieninge ten bate van die koninkryk van God,
en ter ondersteuning van ‘n getuienis aangaande
Jesus!
Werkinge beteken kragtige aktiwiteit en dui op die
feit dat die Heilige Gees self daardeur werksaam is.
In al drie bogenoemde gevalle, genadegawes,
bedieninge en werkinge, is dit die Heilige Gees wat
self die inisiatief neem.
Lees hierdie drie Skrifgedeeltes oor die verskillende
gawes en bedieninge en werkinge:
Rom. 12:6-8. 1 Kor. 12:4-11 en 28-30. Efesiërs 4:7-11.
Die Here se oogmerk met die gawes is dus duidelik:
“Om die gelowiges toe te rus vir hulle diens, naamlik
die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons
uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons
geloof en in ons kennis van die Seun van God.
Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees,
so volmaak en volwasse soos Christus.” – Ef. 4:12-13.
Elke gelowige het ten minste een gawe, of meer gawes
ontvang! God vertrou jou daarmee! Jy het dit ontvang
om te dien!
Gawes van die Gees is nie ter wille van jouself nie.
Die “self” mag nooit daardeur verhef of gestreel word
nie! Hoogmoed blus die gawes van die Gees.
Jou strewe moet wees om vir Jesus ‘n getuie te wees
met jou gawe, of gawes. Enige gawe wat Hy in sy genade
deur ons wil bedien, moet ons in nederigheid en ootmoed
van Hom ontvang en gebruik.
Dien met jou gawe, of gawes, soos die Gees dit gee!
Ernest