Al die elektriese ware in jou huis is met groot
vernuf ontwerp en gebou. Die yskas, rooster,
stoof, verwarmer, ketel, wasmasjien, versapper...
Maar wanneer jy geen elektrisiteit tot jou beskikking
het nie, beteken dit niks vir jou nie. Al hierdie
toebehore is nutteloos sonder krag.

Dit is net so met die mens. Die mens is met groot
vernuf wonderlik geskep en is met behendigheid en
vindingrykheid toegerus. God het die mens met ‘n
besondere doel beplan en in sy skepping geplaas.
Maar die mens is nutteloos en van geen waarde vir
God as God nie die mens toerus met krag nie.
Krag om te leef, en krag van die Heilige Gees vir
God se koninkryk.

Net so gaan dit ook in die kerk. Dit kan dalk baie
goed georganiseerd wees, deeglik geadministreer
word, met bekwame mense in diens, en uitstekende
opleiding vir leraars, sonder dat die krag van die
Heilige Gees aan die werk kom! Dan is al die
potensiaal daar, maar daar is ‘n “kragonderbreking”!
Die eerste en onontbeerlike bestanddeel van die kerk
ná Pinkster, is dat die lede daarvan met die Heilige
Gees vervul is! Elke tong en lewe het getuig van die
wonderlike werk van God, en dit deur die krag van die
Gees – Hand. 1:8. Die krag van die Heilige Gees is nodig!
Selfs die dissipels moes daarop wag vir hulle getuienis
taak. En dit ten spyte daarvan dat hulle vir drie jaar aan
die voete van Jesus geskool is. Hierdie toerusting het
eers waarde begin kry toe hulle Jesus se opdrag
uitgevoer het: “Julle moet in die stad bly totdat julle
met krag van bo toegerus is” – Luk. 24:49. Jesus se
laaste woorde aan sy dissipels was juis :
“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor
julle kom, en julle sal my getuies wees...” – Hand. 1:8.
Dit is die vermoë, die energie en die outoriteit waarmee
mense vir die Here diensbaar is wanneer hulle die
stukrag van die Heilige Gees in hulle ervaar.

Jy kan nooit ooit hierdie krag in ‘n selfsugtige sin vir
jouself toe-eien vir watter rede ookal nie! Dan verstaan
jy gladnie hoekom God jou toerus deur die Gees nie!
Hierdie krag het op God self betrekking:
“Julle sal my getuies wees...” “My getuies” beteken God
se getuies! Al die krag wat die Heilige Gees jou gee is om
die fokus op God en Jesus Christus te plaas. Dit gaan nie
oor ‘n bonatuurlike gevoel of gawes van die Gees ter
wille van jouself nie. Vervulling deur die Heilige Gees lei
tot diensbaarheid! Vir die Here en vir alle mense!

Ernest