Ons word deur die Heilige Gees toegerus om
diensbaar te wees. Elkeen in wie die Gees van
God woon, moet diensbaar wees aan die Here
en aan mense. Daarom kom woon die Gees in
jou en rus jou toe met krag van bo. Ons word
ook as kerk van die Here toegerus deur die Gees
om God se gestuurdes in hierdie wêreld te wees.
Die gawes van die Gees wat ons ontvang gaan nié
oor jouself nie!

Jesus kom wys al in Johannes 13 vir ons wat opregte
diensbaarheid beteken: Om bereid te wees om
jouself te verneder, sodat ander verhoog kan word.
Jesus se diensbaarheid kom wys vir ons hoe God se
koninkryk lyk – waar niemand té belangrik is om enige
iemand anders te dien nie! Daarin is juis leiers ook
bereid om hulleself op te offer ter wille van ander!
Jesus wys dit! Jesus doen dit! Jesus se voorbeeld wys
ook vir ons dat diensbaarheid begin met ‘n gesindheid
van liefde. Liefde is juis die belangrikste van die vrug
van die Gees!

“Diens” is seker een van die heel belangrikste woorde
wat jy in die evangelie van Jesus Christus sal kry.
Nêrens kry ons ‘n beter voorbeeld as Johannes 13 nie,
waar Jesus sy dissipels se voete was.
In die Bybel gaan die woord “diens” dikwels saam met
ander woorde soos: liefde, omgee, onselfsugtig,
gemeenskap, vrede en opoffer. Dit is duidelik:
Diens kos jou iets! Dit vra dat jy nie altyd eerste in die
ry staan nie, en dat jy heel konkreet van jou kosbare tyd,
energie, geld en besittings sal prysgee. Diens is egter ten
diepste nie iets wat jy doen omdat jy voel jy “moet” dit
doen nie. Dít is nie diensbaarheid deur die Heilige Gees
nie. Diensbaarheid deur die Heilige Gees is gedring deur
liefde en omgee wat net die Heilige Gees vir jou gee!
Dit groei in jou hart en jy “kan nie anders nie” as om
te dien.

Daar is ‘n baie groot verskil tussen Christelike diens,
onder leiding van die Heilige Gees, en dienslewering in
die besigheidswêreld. In die besigheidswêreld word
mense tevrede gehou en jy hoop om iets uit die kliënt
terug te kry. Ware diens deur die Heilige Gees gee egter
sonder om enige iets terug te verwag en sonder
bybedoelings.

Kom ons gee en dien. Kom ons luister na die pyn van
ander en help hulle. Kom ons wees gasvry sonder om
te kla. Kom ons getuig vir die Here om die wêreld vir
Hom te wen. Kom ons dien en “was voete” sonder om
onsself hoër as ander te ag. Kom ons dien deur getrou
vir mense te bid, sonder dat hulle eers daarvan hoef
te weet! Kom ons dien die mense wie dit die minste
van ons verwag! Kom ons dien sonder die behoefte
aan eer en erkenning.

Kom ons leef net ‘n bietjie stadiger en luister wie God
op ons hart lê. Want besige uitgebrande mense wat
gedurig in die “geraas” lewe, sukkel om God se stem
te hoor en sukkel om tyd en energie te vind om ander
te dien. Moenie besiger wees as wat die Here jou wil
hê nie. Dien deur die Heilige Gees!

Ernest