Alle diensbaarheid is diensbaarheid vir die Here.
Dink maar aan ‘n teks soos Kolossense 3:23:
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos
vir die Here en nie vir mense nie...” Die Here wil
egter ook dat ons ménse moet dien ter wille van
Hom! In hierdie opsig is elke Christen in sekere sin
iemand wat leiding neem in diensbaarheid waar hy
of sy ook al lewe. Om leiding te neem beteken
daarom ook leierskap in die diensbaarheid opsig.
Christene staan op en dien. Hulle wag nie dat ander
opstaan om dit te doen nie.
Dink maar aan Johannes 13 waar Jesus eerste
opstaan en die dissipels se voete was. Hierin moet
ons die Here Jesus se voorbeeld navolg:
“As iemand My wil dien, moet hy My volg;
en waar Ek is, daar sal my dienaar ook wees.
As iemand My dien, sal die Vader Hom eer.” –
Joh. 12:26.
“Servant leadership” is ‘n gonswoord wat
reeds vir dekades bekend is. Dit is ‘n leierskap
filosofie en ‘n stel gebruike wat die behoeftes
van ánder eerste stel. Die Bybel het reeds baie
lank voor die ontstaan van hierdie konsep baie
te sê gehad hieroor. Onselfsugtige diensbaarheid
is ‘n kwaliteit wat die karakter en lewe van Jesus
Christus beskryf. Hy is die grootste dienskneg
van almal! Jesus het self gesê: “Die Seun van die
mens het ook nie gekom om gedien te word nie,
maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir
baie mense.” – Markus 10:45.
Paulus fokus verder hierop as hy skryf:
“Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink
nie, maar ook aan die van ander.” – Fil. 2:4.
Die Grieks kan hier ook vertaal word met:
“...maar veral aan die van ander...” Dink veral
aan die belange van ander!
Wanneer ons aan Jesus sy regmatige plek in ons
lewens gee, en wanneer die Heilige Gees ons
lewens beheer, kry die Here Jesus se heerskappy
in ons lewens gestalte op die manier wat ons
ander mense dien! Ons bewys ons liefde vir die
Here op die manier wat ons liefde aan ander
betoon. Alle gelowiges is geroep om te dien,
en daardeur God te verheerlik en te eer.
Staan op en dien eerste, soos die Here Jesus
van die tafel af opgestaan het, laag gebuk en
gekniel het, en die dissipels se voete gewas het.
Moenie wag om gedien te word nie.
Dien van harte, soos vir die Here!
Ernest