Die doel van diensbaarheid aan die Here is die
opbou en uitbou van die koninkryk van God in
hierdie wêreld. Die kerk, die liggaam van Christus,
is die diens-gemeenskap van die Here in hierdie
wêreld. Dit is ons gestuurde roeping in hierdie
wêreld; om die Here te gaan dien deur die
gemeenskap en die wêreld te dien. So laat God
sy koninkryk deur ons grondvat in hierdie wêreld.
Dit is ‘n baie groot ommekeer in ons denke.
‘n Paradigma skuif! Nou gaan dit nie meer oor óns
wat gedien en bedien moet word nie, maar om self
eerste te gaan dien! Jesus het nie ereplekke aan
gelowiges gegee nie, maar roep hulle op om te dien!
Daarom word diensbaarheid deur liefde die
uitstaande kenmerk van die kerk van die Here en alle
gelowiges! Ons is nou deel van die Here se aktiewe
diens-gemeenskap. Selfs wanneer jy aan ‘n bed
vasgekluister is, kan jy dien deur jou gebede en jou
getuienis. Jou hele lewe is omvattende diens aan die
Here as ‘n lewenswyse. Jou tyd, krag, gawes en
geleenthede behoort aan die Here. Hy gee dit vir jou.
As diens-gemeenskap van die Here dien ons Hom,
dien ons saam, en dien ons mekaar. Diensbaarheid is
omvattende diens wat op God gerig is:
“Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die
Here en nie vir mense nie....Christus is die Here in wie
se diens julle staan.” – Kol. 3:23-24.
Alle diens is in die eerste plek diens aan God.
Alle dienswerk is ook van begin tot einde God se werk!
Hierdie waarheid bevry ons van selfverheffing, en die
soek na eie eer en erkenning. Dit bevry ons ook van
teleurstelling wanneer ons nie resultate sien nie.
God se werk is steeds die waarborg dat ons dienswerk
sin en betekenis het. Die versoening in Jesus Christus
en die offer van Jesus aan die kruis, is God se dienswerk
by uitnemendheid tot ons heil en redding! Daarom word
dit die diepste grond vir ons eie offervaardigheid en
diensbaarheid...uit dankbaarheid!
H. R. Weber het gesê: “Die hele lewe van die gemeente,
hulle eredienste en hulle gestuur wees in hierdie wêreld,
moet steeds gesien word in die lig van hulle offerdiens.”
Ons sit nou Jesus se werk op aarde voort in die drie
ampte wat in Hom gesetel is:
In die profete amp praat ons wat ons van die Here hoor.
In die priester amp dien ons uit liefde en namens God.
In die koning amp heers ons as oorwinnaars in die Naam
en krag van Christus oor die sonde en die Bose.
Soos die Vader Jesus gestuur het, stuur Jesus ons,
om te dien. Daarom dien ons soos Jesus dien.
Jesus is die grond vir ons diensbaarheid, Hy gee die opdrag
tot ons diensbaarheid, en Hy is ook die voorbeeld vir al ons
diensbaarheid! Kom nou! Staan op as deel van die Here se
gemeente, en dien soos Jesus dien!
Ernest