Die motief vir ons diensbaarheid,
is ons dankbaarheid teenoor die Here!
Ons is diensbaar omdat ons deel gekry het
aan die verlossing in Jesus Christus. Daardeur
het ons hele lewe sin en betekenis gekry.
Dit kan nie anders nie:
Dankbaarheid laat jou dien! Ons hele lewe is
nou daarop gerig. Om dankbaar te wees en
uit dankbaarheid diensbaar te wees.
God wat barmhartig is teenoor alle mense,
Jesus Christus wat vir alle mense gesterf het,
en die Heilige Gees wat ons dring met die liefde
van God, roep ons in die Naam van die Here op
tot diensbaarheid uit dankbaarheid,
aan alle mense!

Die groot dryfveer is die liefde van God in ons.
Ons kan en wil dien, al is dit soms moeilik. Al is
daar nie eer of beloning of erkenning nie, want
die liefde van God in ons, laat ons oorwin!
Die dienswerk wat Christus van ons vra stel
menslik gesproke hoë eis. Kom ons wees maar
eerlik daaroor. Ons kan dit nie uit onsself doen nie.
Daarom kom woon God deur die Heilige Gees
in ons! Die Gees gee aan ons elkeen die gawes
soos Hy wil, sodat ons inderdaad deur Hom in
staat gestel word om te dien,
soos die Here dit wil hê.
Niemand ontvang al die gawes nie, maar nie een
gawe ontbreek nie, en juis daarom moet ons
almal sáám dien as liggaam van Christus.

Ons het mekaar nodig. Dit is hoe die Here dit wil hê.
Moenie jouself isoleer en terugsit om gedien te
word nie. Kom dien uit jou dankbaarheid vir wat
die Here vir jou gedoen het en steeds doen!
Ons het jou gawes nodig. Gawes van die Here is
altyd diensgawes! Gawes word gegee om te dien.
Kom dien uit dankbaarheid!

Ernest