Elkeen se lewensvrae lyk en klink anders.
Ons lewens reise verskil. Sommige woon al 30 jaar
op dieselfde plek. Ander se kinders was al in vyf
skole voor matriek. Daar is wel ‘n gemene faktor.
Nie een van ons is waar ons tien jaar gelede was nie.
Dit geld veral ons geestelike “plek”.
Die lewe en mense met wie ons te doen kry het
‘n invloed op wie ons vandag is. Al ons lewens ervarings
het meegehelp om ons te maak wie ons vandag is.
Wanneer ons in Eksodus lees oor die reis van die
Israeliete, is daar baie waardevolle lesse vir ons. Daar is
lesse te leer by elke plek waar ons in ons lewensreis
verbygaan. Of dit nou aangename of onaangename
ervarings is. Die waarde van elke plek in die lewe waar
ons onsself bevind, word bepaal deur die lesse wat ons
daaruit leer. Dit is nutteloos om deur baie moeilike
omstandighede te gaan en niks daaruit te leer nie.
Die pad wat die Here met die Israeliete geloop het om
uit Egipte na die beloofde land te gaan, was nie ‘n maklike
pad nie. Ons lees dat die ompad wat die Here met hulle
gestap het, ‘n woestynpad was. Water raak op. Die son
steek hulle. Dit gaan swaar. Maar in Deuteronomium 8
lees ons waarom die Here dit gedoen het.
Daar staan dat die Here dit doen sodat die Israeliete
nederig kon word, en dat Hy wou sien of hulle aan Hom
gehoorsaam sou bly. Hulle moes ook leer dat hulle nie
van brood alleen kan leef nie, maar dat hulle leef van
elke woord wat uit die mond van God kom. Omdat hulle
klere nie oud en opgeraak het nie, en hulle voete nie
geswel het van die lang stap nie, het hulle geleer dat God
vir hulle sorg. Die swaarkry jare in die woestyn was die
Israeliete se voorbereidings jare .
Hulle moes God se hart leer ken, en ook hulle eie harte.
Ons elkeen is op ‘n lewensreis. Soms met groot ompaaie.
Ompaaie sonder water. Maar soos die Israeliete moet jy
ontdek dat die Here besig is met jou. Jy moet selfs meer
ontdek: Hy sal jou nooit ooit verlaat nie. Jy moet leer dat
Hy betroubaar is en dat Hy jou oneindig liefhet.
Ernest