Landswette soos verkeersreëls is nie daar om
die lewe vir ons moeilik te maak nie. Dit is daar
om ons te beskerm. Ook om orde te handhaaf
sodat daar vrede kan heers tussen mense.
Ons rebelleer te maklik teen reëls en wette
omdat ons selfsugtig is en nie ander mense in
ag wil neem nie. Ons wil doen wat óns wil.
En as ander dit oortree, soos oor die stopstraat ry,
dan doen ons dit ook, anders voel ons “tenagekom.”
Ons reageer op iets aan die binnekant van ons.
Ons gesindheid.

Die manier waarop ons reageer word bepaal deur
wie ons lewe beheer. Ons, of die Heilige Gees.
Die eie ek laat my reëls en wette ignoreer. Nie die
tyd wat ek bespaar, of die ongerief daarvan nie.
Dit is net die “ek” wat belangriker is as enige iets
of iemand anders.

God het die wet aan Moses gegee om orde te skep
in ‘n baie deurmekaar wêreld. Maar selfs dit het nie
gehelp om die mense ordelik te laat lewe nie!
‘n Wet wat voorskryf het geen mag oor enige iemand
as daar nie van die binnekant van die mens ‘n wil is
om gelei te word deur Iemand groter as hyself nie.
Die Skepper God van elke mens wil nie hê ons moet
onder beheer van onsself leef nie. Daarom stuur Hy
sy Seun na die aarde om die alternatief te kom
moontlik maak. Jesus Christus kom sterf in die plek
van elke persoon se “eie ek”. Nou moet God die plek
van die eie ek inneem en in ons lewe regeer.

Romeine 7 sê solank die eie ek op die troon van ons
lewe sit, staan ons onder beheer van die sonde en
sal ons nooit binne die riglyne van wette of voorskrifte
kan bly nie. Sodra jy Jesus Christus as Verlosser aanvaar
behoort jou hele lewe en wese aan God. Dan beleef ons
die voorskrifte as riglyne wat ons graag wil volg ter wille
van die Here en mense. Wanneer ons lewend gemaak is
deur die Gees, is die wet nie meer vir ons ‘n bedreiging
of ‘n ongerief nie, maar riglyne om by die plek uit te
kom waar God wil hê ons moet wees.

Kla ons weer oor soveel mense wat wette oortree?
Kom ons tel net vir een week hoeveel ons oortree.
Kom ons haal eers die balk uit ons eie oog...

Ernest