Op ‘n dag het die Koning by die hoofstad van
sy volk opgedaag. Matteus 21:5:
“Kyk, jou Koning kom na jou toe…”
Jesus het in Jerusalem aangekom vir die viering
van die Paasfees.

Gerugte oor sy koms het oor die hele gebied versprei.
Van oral af het mense gekom om God se Seun
feestelik in die stad van sy vader Dawid te verwelkom.
Palmtakke. Hosanna uitroepe. Juigkrete oor sy koms.
Hierdie welkom het nie lank gehou in die geestelike
hoofstad van die volk nie. ‘n Paar dae later is Hy aan
die kruis vasgespyker.

Maar vir die oomblik was daar nog genade vir die
inwoners van Jerusalem te vind. Hulle het nog die kans
gehad om te buig voor die Messias wat nederig op
‘n esel die stad ingery het. Die inwoners het ‘n ridder
op ‘n perd verwag wat hulle van die Romeine sou bevry.
Jesus se “wapens” was egter genade en genesing.

Hoe sal jy die Messias vandag ontvang as Hy by jou opdaag?
Sal jy Hom met oop arms verwelkom? Sou jy Hom nie dalk
mis omdat jy te besig is nie?
Die waarheid is dat Hy ook vandag by jou opgedaag het
met sy genade en seëninge. Dit is dalk so dat jy Hom
heeltemal misgeloop het, nie eers raakgesien of raak
gehoor het nie....
Verwag jy Hom net in jou behoeftes en jou agenda?
Moenie die Koning misloop nie...

Ernest