Jesus sê in Matteus 21:13:
“My huis sal ‘n huis van gebed wees...”
Wat ‘n skok was dit nie vir Jesus om al die
handelaars by die tempel aan te tref nie?
Hulle was besig om buitelandse geld om te ruil
vir geld wat by die tempel toelaatbaar was.

Jesus was nie ontsteld oor die blote feit dat
hulle daar geld hanteer het nie. Sy ontsteltenis
was oor die feit dat hulle lankal God vergeet het
en besigheid gedoen het eerder as om te aanbid.
Hulle het vergeet dat die tempel primêr ‘n plek
van gebed is. Al wat oorgebly het was ‘n groot
klugspel waar mense daarop ingestel was om
besigheid te doen. Wins. Geldmaak.
Jesus gooi die geld handelaars se tafels om en
jaag hulle uit die tempel area.

Vandag bly God nie in geboue van klip nie.
Vandag is jou liggaam en jou lewe God se
woonplek. Hy woon deur die Heilige Gees in jou.
Jy is ‘n tempel van die Heilige Gees – 1 Kor. 3:16
en 6:19.

Die vraag hieroor is:
Het jy ook al heeltemal perspektief verloor?
Hoe lyk jou lewe? Hoe lyk jou lewe as lewende
tempel van God?
Is jou lewe opreg voor God en op Hom gerig?
Sou Jesus tevrede wees met jou lewe as tempel
van God?
Die Heilige Gees wil jou help om so te leef!
Moenie die Gees weerstaan of bedroef nie.
Wees ‘n ware tempel van God.

Ernest