Hierdie woord is lekker gelaai en trek dadelik
ons aandag: Belasting. Ons redeneer baie oor
hierdie saak. Wat moet ek betaal en wat nie.
Moet ek meer betaal as wat die regering toekom?
Jesus het mos die baie belangrike woorde in
Matteus 22:21 gesê: “Gee dan aan die keiser wat
aan die keiser behoort, en aan God wat aan God
behoort.”

Nou redeneer ons: Gee aan die keiser wat aan
hom behoort, en nie meer as dit nie. En ons begin
onbewustelik ook aan God gee wat aan Hom
“behoort”, en nie meer as dit nie.
Daarom vra ons vrae soos: “’n Tiende van my bruto,
of ‘n tiende van my netto?” En ons begin ons
“tiende” net so langtand gee soos ons belasting!

Jesus het nie ‘n probleem daarmee dat ons belasting
betaal nie. Wanneer mense Hom in ‘n strik probeer
lei oor die belasting wat hulle veral aan die Romeine
moet betaal, wys Hy vir hulle daarop dat die keiser
moet kry waarop die keiser geregtig is, en God moet
kry waarop Hy geregtig is.

Nou waarop is die keiser geregtig? Wel, op ‘n deel
van ons geld. Dit is al. Niks meer nie. Geen aardse
staat of regering het die reg om ons totale lojaliteit
en ons ganse lewe op te eis nie. Daarom gee ons die
keiser wat hom toekom: Geld. Belasting.

Maar waarop is God geregtig? Wat vra Hy van ons?
Wel, niks minder as ons hele lewe nie! Dit is wat God
verwag! Ons hele lewe behoort aan Hom! Duur gekoop
aan die kruis. Wanneer jy jou hele lewe gee het jy nie
meer vrae oor wat aan God behoort nie. ‘n Tiende of nie?

Ons behoort aan God! God se “belastingaanslag” is nie
te bereken nie. Dit kom in die vorm van die oorgawe van
jou hele lewe aan Hom! Ons is dikwels meer begaan oor
belastings en tiendes,
as oor ‘n lewe van oorgawe aan God.

Ernest