In Matteus 23:11 sê Jesus: “Maar die grootste
onder julle moet bereid wees om die ander te dien.”
Dikwels beleef ons mense in die kerk wat “seer byt”,
eerder as om voete te was. Skerp tonge en skerp tande...
Jy voel die skerpheid daarvan in hulle afbrekende taal as
hulle onder mekaar oor kerklike sake, uitsprake en
geloof-oortuigings praat. Jy hoor dit selfs as hulle oor
medegelowiges in die gemeente praat wat van hulle
verskil. Hulle hou veral daarvan om hulle slagtande in
die foute van die kerk en medegelowiges in te slaan.
Hulle bytmerke lê die kerk vol, en die slegste is dat hulle
dit dikwels nie eers weet of agterkom nie.
Dit is maklik om foute in die kerk uit te snuffel.
Ons hoef regtig nie ver te soek nie, want die kerk
bestaan uit óns! Jesus het ons egter nie geroep om op
die foute van die kerk te konsentreer nie, maar om saam
aan die kerk op te bou en dit uit te bou. Ons is geroep
om met ons woorde heel te maak, wonde te verbind,
soos die barmhartige Samaritaan, en heel te maak.
Ons moet hoop gee. Ons moet noukeurig let op ons
tong en ons dade. Ons woorde en dade moet nie seer
maak nie, maar genees. Ons moet met deernis optree.
Luister weer na die Here Jesus se woorde:
“Maar die grootste onder julle moet bereid wees om
die ander te dien.” Paulus sê in Romeine 12:3:
“...Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te
dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te
wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat
God aan elkeen toebedeel het.” Veral nie ten opsigte
van oordeel en veroordeel nie.
Moeder Teresa het gesê: “Daar is soveel miljoene
woorde in die wêreld. En net dié wat iets van Jesus se
liefde oordra, kan die donker minder maak.”
Wat ons ook al met ons woorde vermag, dit kan nooit
weer ongesê of ongedaan maak word nie.
Woorde is kragtig en ten diepste ‘n vorm van skepping,
of vernietiging...
Dink mooi oor wat jy oor die Here se kerk sê, en vír die
kerk sê...,die Here se kinders...,die Here se familie...,
die Here se geliefdes..., hulle vir wie die Here duur
met sy bloed betaal het..., hulle wat aan God behoort.
Ernest