Godsdiens kan jou gou verander in ‘n
beterweterige en hooghartige mens wat
meen jy het die waarheid in alle opsigte.
En al sou jy dit ontken, tree jy maklik so op,
asof dit so is. Godsdiens kan so gou verval in
‘n klomp formele aktiwiteite sonder hart,
wat die aanhangers daarvan glad nie in ‘n
lewende verhouding met God self bring nie.
Dit het Jesus in Matteus 23:27 laat sê:
“Julle is soos witgeverfde grafte...” Jesus is
nie in hierdie tipe godsdiens-besigheid nie.

Van die mees onverdraagsame en liefdelose
mense wat rondloop is juis die “vromes”.
Dit is sulke soort mense wat Jesus gekruisig het.
Sy dood was die werk van mense wat in die hart
van die godsdiens van daardie tyd gestaan het.
Mense wat elke dag besig was met die bestudering
van die wette van God! Tog het hierdie
godsdienstiges nie die vaagste idee gehad wat dit
beteken om ware volgelinge van God te wees nie.

Jesus het nie ‘n nuwe godsdienstige sisteem aarde
toe gebring nie. Jesus het vir God op ‘n nuwe
manier aan ons kom bekendstel. Hy het so geleef
en gepraat dat ons God kon sien en hoor! Hy het
vir ons kom wys dat God regtig ‘n hart het vir
stukkende mense en dat Hy hulle liefhet:
alle sondaars en verlorenes!

Daarom het Jesus godsdienstiges se godsdiens kom
ontmasker en vir hulle kom wys wat dit regtig
beteken om God te dien. Goddank!
Laat Jesus jou totaal verander. Moenie dat
godsdiens jou verander nie...

Kom ons bly weg van formalistiese godsdiens af.
Maak seker dat jy regtig in ‘n lewende verhouding
met God staan waarin jy Hom van harte dien,
en alle mense dien met die liefde van die Here.
Dien Jesus met jou hart en met jou lewe. Dien ook
mense met die onvoorwaardelike liefde van die Here.

Ernest