Jesus se dissipels vra in Matteus 24:3 vir Hom:
“...wat sal die teken van U koms en van die einde
van die wêreld wees?” Ons gesels graag oor die
einde van die wêreld. Veral so ‘n klompie jare
terug met die wisseling van die millennium!
Mense was gaande oor al die voorspellings,
en om “gereed” te wees! In daardie tyd was
boeke oor die eindtyd baie gewild en ‘n klomp
mense het baie geld gemaak. Almal het die
“tekens” gelees.

Kort voor sy kruisiging het Jesus gewaarsku dat
die ganse eindtyd, wat strek vanaf sy eerste koms
tot en met sy wederkoms, gekenmerk sal word
deur dinge soos swaarkry, vals Messiasse, oorloë,
hongersnood, aardbewings,...
Hierdie tekens is dinamies herhaalbaar. Dit is nie
dinge wat net maar in ons geslag plaasvind nie.
Nee, sulke dinge het in vorige generasies se leeftyd
ook gebeur. Daar was nog altyd al bogenoemde.
Daarom dui hierdie tekens wat Jesus opnoem as
bewyse dat sy koms deurgaans op hande is!

Dit is waarskuwingsligte om elke generasie se
verwagting van Jesus se koms lewend te hou.
Elke generasie moet gereed wees.
Jesus is deurgaans komende! Wees gereed.
Koop die tyd uit. Leef voluit vir die Here.
Benut elke oomblik om sy koninkryk uit te bou.
Verheerlik en eer God met jou hele lewe.
Leef dinamies. Aktief.
Geen geredde mens kan passief “sit en wag”
vir die wederkoms nie.
Lééf die wederkoms na jou toe.
Jesus kom gou. Hy is komende...!

Ernest