Jesus sê self oor die wederkoms in Matteus 24:36:
“Maar niemand weet wanneer daardie dag en uur
kom nie...” Hoor weer wat Jesus sê: Niemand weet nie!
Alle spekulasie oor die presiese datum van die
wederkoms van Christus is gevaarlik en
onverantwoordelik. Niemand weet nie!
Die wat voorgee dat hulle weet, weet net so min as
enige iemand anders! Toe Jesus nog op aarde was het
Hy gesê dat Hy self nie eers weet nie! Hoe is dit dan
moontlik dat enige iemand beter weet en dan selfs
datums bereken en aankondig?!
Die belangrike is dat ons fokus nie daarop moet wees nie.
Ons fokus moet wees op die tyd waarin ons leef. God
vertrou ons om in hierdie tyd waarin ons leef sy
verteenwoordigers te wees. Ons moet voluit bou aan die
koninkryk van God! Ons hoef ons nie te bekommer oor
die dag en uur van die wederkoms nie. God sal nie laat
wees nie, en ook nie vroeg nie. Leef voluit, elke dag op
die uitkyk vir geleenthede om die Here te dien,
met die oog op sy koms.
Claude Vosloo het gevra: Hoekom is die wederkoms vir
gelowiges so belangrik en so ‘n geweldige waarborg?
Dan antwoord hy: “Omdat die Skeidsregter “partydig” is!
Hy is ook die Wenkaptein wat die “game” geswaai het!
Die Skeidsregter neem deel en daarom blaas die eindfluitjie
– die “laaste trompet” – wanneer dit vir sy wenspan die
beste is!”
Intussen leef ons hiér en noú.
Daaroor sê Dietrich Bonhoeffer:
“Miskien kom Jesus môre terug. As dit gebeur,
sal ons met graagte ophou om vir ‘n beter toekoms hier
op aarde te werk. Maar nie een dag vroeër nie.”
Dít is ons roeping! Leef noú vir die Here!
Ernest