In Matteus 25:12 lees ons hierdie woorde:
“Ek sê vir julle: Ek ken julle nie.” Dit is vir
sommige mense baie belangrik om ander
mense se name te ken. Dit is ook vir hulle
belangrik dat ander mense hulle ken.
Hulle hou daarvan om te sê hulle ken vir
“so-en -so”. Dit gee aan hulle ‘n gevoel
van belangrikheid as hulle kan sê hulle
ken iemand of het iemand wat belangrik
is ontmoet.
So beweer baie mense ook dat hulle vir
Jesus ken. Om elke hoek en draai gebruik
hulle sy Naam, en dikwels misbruik hulle
sy Naam. Jesus het ‘n huishoudelike Naam
oor die hele wêreld geword. Kyk net hoe
word sy Naam in flieks misbruik. Die vraag
is egter nie of mense vir Jesus ken nie.
Die groot vraag is of Hy al daardie mense
ken wat sy Naam so kwistig gebruik? En die
belangrike is dat Hy self sê Hy ken hulle nie
almal nie! Jesus vertel hier in Matteus 5 dat
Hy op die laaste dag vir baie mense sal sê Hy
ken hulle nie! Dit is tragies dat mense dink
hulle ken Jesus, en dat hulle sy Naam voor
en agter in hulle gesprekke gebruik,
en Hy ken hulle nie!
Baie mense dink ook hulle ken Jesus,
maar hulle het eintlik nie die vaagste benul
Wie Hy is nie! Jesus wil nie hê jy moet net
kennis neem van Hom nie. Hy wil ook nie net
kennis neem van jou nie. Hy wil graag hê jy
moet Hom regtig ken, volg en Hom gehoorsaam.
Maak seker dat jy Jesus werklik ken,
en dat Hy jou ken!
Ernest