In Matteus 25:36 sê Jesus: “Ek was sonder klere,
en julle het vir my klere gegee...” Dikwels herken
ons Jesus nie so maklik nie. Maar wanneer ons
mooi kyk sien ons sy voetspore oral rondom ons.
Jy sien Hom in die mens wat nie klere het om aan
te trek nie. Jy sien Hom in ‘n weerlose oue van dae.
Jy sien Hom in iemand wat vra vir kos. Jy sien Hom
in ‘n laggende kind wat nie skoene het om aan te
trek nie. Of in ‘n eensame, ‘n hulpelose, of lydende
mens. Hy is die hele wêreld vol.
Maar ons sien Hom nie raak nie. Ons verwag om
Hom in die kerk raak te loop. Hy is daar ook. Oral
waar sy Woord gebring word en waar twee of drie
in sy Naam vergader is. Maar Hy is ook waar ons
Hom die minste verwag. Hy bly nie by die kerk agter
as ons huis toe gaan, en werk toe gaan, en in die
verkeer sit nie.
Ons moet oplet waar Jesus vandag aan die werk is.
Ons moet daar gaan brood uitdeel. En warm
kledingstukke. Ons moet daar vir mense bid en
vriendelikheid en goedheid versprei. Ons kan nie
naamloses en gesigloses net op ‘n afstand met
geld-skenkings help nie. Die Here wil hê dat sy liefde
deur ons as persoon grondvat by mense. Jesus se
mense moet naby wees aan die wat ly. Hulle is daar
waar mense leef met swaar laste, en hulle help daaraan
dra. Ons moet saam met mense wees wat swaarkry in
die loopgrawe van die lewe. Wanneer ons daar is,
sal ons Jesus in daardie omstandighede raaksien,
en herken. Wanneer ons mense in nood bystaan en
help, doen ons dit direk vir Jesus. Hy sê in vers 40:
“Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van
die geringste van hierdie broers van My gedoen het,
het julle dit aan My gedoen.” Herken Jesus!
Ernest