Paulus begin sy Romeine brief deur te beklemtoon
Wie die ware mag het: “Toe Jesus na sy kruisiging uit
die dood opgestaan het, het die Heilige Gees aan
Hom die heel belangrikste posisie in die hemel gegee.
Hy is daar in die hemel triomfantlik as die Seun van God
aangewys. Daarom besit Hy nou al die mag in die hemel
en op die aarde.”- Rom. 1:4.

Regerings gooi hulle gewig rond. Leiers ly aan
grootheidswaan. Mense onderdruk ander mense omdat
hulle meer mag het. Ongeregtigheid vind plaas weens
magsmisbruik. Maar ons moet ons nie laat mislei deur
menslike mag nie. Ons moet die groot prentjie en die
uiteindelike prentjie in gedagte hou.

Romeine 1:4 herinner ons dat Jesus Christus die ware
magspersoon is! Sy mag en invloed is oral, of ons dit
wil erken of nie. Die Here is nie afhanklik van enige mens,
ideologie, regering of wie ookal om mag te besit nie.
Hy is almagtig. Punt.

Jesus vra nie dat regerings of magtiges van hierdie
wêreld moet besluit of bevestig dat Hy die mag het nie.
Christus is alreeds die Leier, of die leiers van die wêreld
daarmee saamstem of nie.

Die uitdaging vir ons is om onder die mag van Christus
te leef, en dit uit te leef, en so sy koninkryk in hierdie
wêreld te laat kom. Alle mag is in Jesus se hande, maar
dit is die gesag van Een wat gekies het om die gestalte
van ‘n dienskneg aan te neem. Deur dienskneg-leierskap
het Jesus ander mense bemagtig, toegerus en geleer.
So het Hy nuwe lewe en ‘n nuwe bedeling daargestel.
Dit is ook ons uitdaging as sy gestuurdes.
Leef so dat elkeen wat met jou in aanraking kom sien
Wie jy aanbid en ontdek Wie alle mag in die hemel en
op die aarde het!

Ernest