Paulus sê in Romeine 1:14-15: “Dit is my plig
om aan alle mense op aarde, Jode en nie-Jode,
geleerdes en ongeletterdes, die goeie nuus oor
Jesus Christus bekend te maak. Daarom wil ek
bitter graag na julle toe kom. Ook daar in Rome
moet ek die goeie nuus laat weerklink.”

Die Romeine was op hierdie stadium seker die
grootste vyande van die Jode. Maar die goeie
nuus van Jesus Christus het alles verander!
In Christus word alle mense nou dieselfde
Behandel. Waar die Jode vroeër die Romeine
soos pes vermy het, gebeur die teenoorgestelde
nou met Jode wat tot bekering kom. Paulus sê hy
wil bitter graag na Rome gaan om die goeie nuus
te deel. Nou sien iemand wat in Christus ‘n nuwe
mens geword het alle manse op dieselfde vlak.
Jode en nie- Jode. Geletterdes en ongeletterdes.

Paulus het ‘n missie: Deel die goeie nuus van Jesus
met almal. Behandel almal dieselfde! Voor die voet!
Sien alle manse nou soos Jesus hulle sien.

Dink net aan die Keltiese sendeling, Aiden, wat eeue
terug Engeland vir die Here gaan wen het!
In 630 n.C. het die Saksiese koning die eiland Iona se
Christen gemeenskap gevra om die goeie nuus van
Christus met sy mense te kom deel. Na ‘n tyd het die
Ionase sendelinge teruggekom met hierdie berig:
“Die Engelse tree soos barbare op! Dit is ‘n hopelose
taak.” Aiden het toe geantwoord:
“Julle is te hard met hierdie mense.” Aiden het toe
self gegaan, en die manier hoe hy die Engelse
behandel het, soos Jesus hulle sou behandel het,
het die Engelse mense oortuig dat die nuus van
Jesus inderdaad goeie nuus is!

Ons sê ook maklik mense is soos barbare...
Ons doen dieselfde as wat die Ionase sendelinge
met die Engelse gedoen het. Kan jy dink die Engelse
het ook op ‘n tyd soos barbare opgetree, in die oë
van sendelinge. Ons moet geen mense afskryf nie!
God hou vol met alle mense! Ons moet volhou om
alle mense dieselfde te behandel,
met die liefde van Jesus Christus.

Ernest