Kyk net na genade in hierdie paar sinne!
Dit is die goeie nuus van Jesus se genade in
‘n neutedop: “Ek is glad nie skaam om die
goeie nuus van Jesus Christus bekend te
maak nie. God se groot krag is aan die werk
op elke plek waar hierdie boodskap verkondig
word. Hy red elkeen wat dit glo, Jode en nie-Jode.
God se goedheid word sigbaar oral waar waar
mense met hulle hele lewe op Hom vertrou.
Daar staan immers in die Bybel geskryf:
“Almal wat deur God van hulle sondes
vrygespreek is omdat hulle glo,
sal die ware lewe ken.” – Romeine 1:16-17.

Dink aan Martin Luther, die man wat God gebruik
het om die kerk weer terug te bring na die basiese
waarheid oor God se genade. Luther het altyd geglo
dat die Here baie goed is, en die mens baie sleg.
Daarom moet die Here baie kwaad virdie mens wees.
Eendag, terwyl hy die Bybel lees, was dit asof hy vir die
eerste keer hierdie bogenoemde teks raakgesien het.
Skielik het Luther besef dat hy nie God se guns hoef te
probeer wen nie, en dat hy dit in elk geval nie kan
regkry uit eie verdienste nie! Met ‘n groot sug van
verligting het hy besef dat God hom lank reeds
vergewe het, en vrygespreek het!
Dit alles het aan die kruis gebeur!
Hy het besef wat genade regtig is!

Genade is:
God is liefde, genade en barmhartigheid.
Sy liefde en genade beteken dat ons kry wat
ons nié verdien nie. Sy barmhartigheid beteken
dat ons nié kry wat ons regtig verdien nie!
Nou weet ons dat ons die goeie doen, nié sodat
ons hemel toe te gaan nie, maar omdat ons reeds
in Christus verlos is, en nuut vir Hom lewe,
hier en nou reeds! Vergeet vir eers van die hemel!
Lewe nou die nuwe lewe vir die Here.
Deel nou reeds die genade van die Here vrylik uit
soos jy dit vrylik ontvang. Dit is jou roeping,
as begenadigde!

Ernest