Paulus skryf merkwaardige waarhede in
Romeine 1:18-21. Hy skryf dat God uit sy
hemelse woonplek wys dat Hy baie kwaad is
oor al die sondige dinge wat die mense hier
op aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid
vir leuens. Dit is ‘n groot fout, want God het
alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne
hulle bereik geplaas. Van die begin van die
skepping af het God Hom baie duidelik aan ons
bekendgemaak. Dit is sy algemene openbaring
aan ons. Alhoewel niemand van ons God met
die blote oog kan sien nie,het Hy sy groot krag
oral in die skepping aan ons kom wys.
Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is.
Daarom het die mense geen verskoning nie.
Die mense weier egter om Hom te aanbid of om
Hom te dank vir al die goedheid en genade wat
Hy aan ons bewys. Daarom tree mense so dwaas
op. Hulle hele lewe is een stuk donkerte.

‘n Dekaan aan die teologiese fakulteit van Cambridge
het afgetree en die fakulteit het besluit om ‘n skildery
van hom te laat maak en in die portaal op te hang.
Met die onthulling was almal beïndruk met die
meesterstuk. Die dekaan het na die skildery gewys en
gesê dat niemand sal vra wie die persoon op die
skildery is nie, maar eerder sal vra wie die skildery
gemaak het! Die meesterstuk sou wys op die skepper
daarvan! Wie is die kunstenaar!?

Paulus sê dat dit so is met die skepping van God.
Die skepping wys heen na die Skepper daarvan!
God word deur Homself geopenbaar in sy eie skepping!
Mense sal nie die verskoning kan hê dat hulle nie vir
God kon leer ken nie. Ons moet as getuies van God ook
hierdie aspek aangryp en mense help wat vra:
“Wie is hierdie kunstenaar? Wie het dit geskep?”
As Jesus volgelinge kan ons dan verwys na God se
besondere openbaring van Homself:
dit is die Almagtige Skepper God, Vader, Seun en
Heilige Gees! Aanbid Hom! Hy alleen is die ware God!

Ernest