Wat is die probleem met die mensdom?
Waarom al die korrupsie, oneerlikheid, misdaad,
seksuele losbandigheid, ongeregtigheid…?
Paulus skryf in Romeine 1:24-25 dat die probleem
by die mens self lê. Vir ‘n begin word God se groot
Naam deur die modder gesleep. Daarom het God
besluit om die mense te straf deur hulle aan hulle
eie lot oor te laat. Dit is ‘n baie groter straf as wat
die mens dink! Dat God jou aan jou eie lot oorlaat.
Jy is dan jou eie afgod en dit is die god wat jou die
meeste vernietig! Want nou leef mense al hul sondige
begeertes na hartelus uit. Paulus noem seksuele
losbandigheid maar as een voorbeeld. Paulus sê dat
mense erger geraak het as wat hulle ooit kon dink.
Hulle het die waarheid van God verruil vir die leuen.
Hulle dien en vereer die skepsel, hulleself, eerder as
die Skepper. Dit is ‘n enorme fout! Die moeder van
alle foute. Om jouself te dien, eerder as vir God.
Daar is immers net een God wat vir altyd aanbid
moet word. Die enigste ware God!
Die “London Times” het ‘n paar dekades terug vir
‘n paar Christenskrywers gevra om artikels te skryf
oor die onderwerp “What’s Wrong With the World?”
Die bekende skrywer G. K. Chesterton het teruggeskryf:
“Dear Sir’s: I am. Sincerely yours, G. K. Chesterton.”
Die probleem lê by die mens wat homself sentraal stel.
Ons ontwikkel ‘n godkompleks met ons self en aanbid
ons self. Selfs al sê ons anders in die verweer van ons self.
Die mens, óns, moet weer regtig voor die ware God buig
en Hom alleen dien, en dan sal dinge weer in hierdie
wêreld in hulle Godgegewe plek val.
Die Christene in Soedan het ‘n gebed wat merkwaardig is
in hulle haglike omstandighede en vervolging ter wille
van hul geloof. Hulle bid elke oggend van elke dag nuut:
“Goeie môre, Here! Ek het U lief. Wat doen U vandag?
Wel, ek wil deel wees daarvan! Amen”
Kom ons bid en bedoel dit ook opreg, en wees saam
met God deel van sy herskeppingswerk in hierdie wêreld!
Ernest