Romeine 5:3-5 lees treffend so in Die Boodskap:
“Al kry ons nou baie swaar, vat dit gladnie ons
blydskap weg nie. Allesbehalwe. Ons weet mos
dat swaarkry ons vorm en slyp om nog meer op
God te vertrou. En wanneer ons onverskrokke
op God vertrou, help dit ons om ‘n sterk Christelike
karakter te vorm. En ‘n sterk Christelike karakter
maak dat ons deur dik en dun glo dat God se nuwe
wêreld op ons wag. Wanneer ons al ons hoop op
God stel, sal ons nooit teleurgesteld wees nie.
Want Hy vul ons elke dag met sy liefde. Dit doen
Hy deur die Heilige Gees wat by ons bly.”
Swaarkry neem nie ons hoop en blydskap in die
Here weg nie.

Charles Handy, ‘n Ierse besigheidsman, vertel van
twee foto’s wat op sy lessenaar staan. Die eerste
is die vol gesig van ‘n swart seuntjie wat vriendelik
glimlag. Sy gesig maak die hele foto toe sodat jy
niks van die agtergrond kan sien nie. Die tweede
foto is dieselfde foto in vollengte. Sy gesig lyk
presies dieselfde, maar nou kan jy die agtergrond
sien, die “shack” waarin hy woon, en die kaalvoete
waarmee hy in die riool van die straat staan.
Hierdie twee foto’s is ‘n simbool van die uitdaging
wat ons almal wêreldwyd in die gesig staar.

Ongeag die haglikste omstandighede is die belofte
van ‘n toekoms daar, as ons dit net kan losmaak uit
die kettings van die omgewing! Hoop kan jou laat
vlieg wanneer daar geen grond is om op te staan nie.
Net hoop kan jou “...deur dik en dun laat glo dat
God se nuwe wêreld op ons wag”,
soos die aangehaalde bogenoemde teks sê.
En net dit kan jou blydskap gee ten spyte van
omstandighede.

Ons moet hierdie hoop met die wêreld deel.
Ons moet hierdie hoop uitleef teenoor mense
wat nie meer uitsig het nie!

Ernest