Lees die wonderlikste nuus van Romeine 8:1-4:
“Goeie nuus! God se oordeel is vir altyd verby vir
elkeen wat aan Christus Jesus behoort. Dit alles is
aan die Heilige Gees te danke. Sy nuwe wet
waarborg nou splinternuwe lewe in Christus Jesus
vir my. Die Gees maak my vry van die neerdrukkende
wet van die sonde en die dood. Wat die wet nooit
kon regkry nie, het God reggekry. Hy het geweet dat
die wet nie in staat is om ons te verlos nie. Daarom
het God besluit om sy eie Seun na ons toe te stuur.
Jesus het toe ‘n gewone mens geword en tussen ons
in hierdie sondaarsnes kom bly. Toe Christus aan die
kruis gesterf het, het God persoonlik met die sonde
afgereken. Ons lewens word nie langer deur die
sonde oorheers nie. Nee, die Heilige Gees staan
nou aan die stuur van ons lewens.”

Nuwe lewe is moontlik omdat Jesus nou deur die
Gees in ons woon. Onthou: Jesus het ons kom
verlos sodat ons weer die beeld van God kan wees.
Fritz Kreisler, die beroemde violis, het gesê:
“Ek het nie die vaagste bewustheid van wat my
vingers doen terwyl ek speel nie. Ek konsentreer
op die musiek wat ek in my kop hoor en probeer
so naby aan dit kom as wat ek kan.”
Dalk is dit ook iets hiervan wat gebeur as ons
onder leiding van die Heilige Gees lewe.
Die violis se vingers sal foute maak, en net so sal
ons ook foute maak in ons lewe. Maar ons hoor
deurgaans die Heilige Gees wat ons lei in ons lewe
om ons al hoe meer na die beeld van Jesus te laat
lyk. Ons streef daarna om so te leef, al maak ons
nog “vingerfoute”.

Wat is die musiek wat ons in ons kop en hart hoor?
Hier is dit: “Die wat in Jesus bly, moet self ook leef
soos Jesus gelewe het.”
Die Heilige Gees staan nou aan die stuur van ons
lewens! Hoe bevrydend is dit nie!

Ernest