Een van die heel wonderlikste stellings wat oor jou
gemaak kan word is: “Jy is familie van God!”
Om deel te word van hierdie familie beteken dat jy
nooit ooit alleen is nie. Weet jy dat jy in elk geval nie
op jou eie regtig kan oorleef nie? Net soos ‘n heuningby.
Een van die interressante feite oor heuningbye is dat
wanneer jy ‘n heuningby van die res van die nes isoleer,
en hom op sy eie bly versorg met genoeg kos en water,
selfs in ‘n ideale habitat, jy verseker kan weet dat die by
binne twee of drie dae sal vrek!
Daar is iets in die gemeenskap van heuningbye wat die
swerm aan die lewe hou. Jy kan met heuningbye boer,
maar jy kan nooit met ‘n enkele heuningby alleen boer nie.
Dieselfde geld vir ons! Gelukkig kan ons sê:
“Ek is familie van God!”
Treffend praat Romeine 8:14-15 hieroor,
om familie van God die Vader te wees:
“Almal wat hulle deur die Gees laat lei, is kinders van God.
Onthou: God het sy Heilige Gees gegee aan julle wat in
Hom glo. Dit is Hy wat julle kinders van God gemaak het.
Verder is dit ook Hy wat nou ‘n diep verlange na God in
julle binneste wakker maak. Die Gees roep voortdurend
in julle binneste uit: “Vader, liefdevolle Vader!”
Dit laat ons ‘n opwindende lewe leef! Om die liefdevolle
lewende God as jou Vader te hê! En medegelowiges as jou
broers en susters! Dit alles begin by God. Oor hierdie
opwindende lewe vertaal “The Message” verse 14-15 so:
“God’s Spirit beckons. There are things to do and places to go.
This resurrection life you received from God is not a timid
grave-tending life. It’s adventurously expectant,
greeting God with a childlike “What’s next, Papa?”
Wat ‘n avontuur om kind van God te wees!
Familie van God!...Saam!
Ernest