In Romeine 8 skryf Paulus ook treffend oor swaarkry,
en die Heilige Gees dra ons in die moeilikste tye ook
hiermee. Romeine 8:18-22: “Ek is van een saak oortuig;
al ons swaarkry weeg gladnie op teen die wonderlike
lewe wat op ons wag in God se nuwe wêreld nie. Die res
van God se skepping sien ook baie uit na daardie groot
dag wanneer Hy voor almal sal sê dat ons sy kinders is.
Want tot nou toe kry die skepping baie swaar. Tog is
daar hoop. Die skepping weet dat God dit ook eendag
sal bevry van hierdie verskriklike lyding. Op daardie dag
wanneer God al sy kinders eens en vir altyd kom verlos,
sal die skepping ook vrygemaak word. Dan sal die
skepping God se heerlikheid op die regte manier
weerkaats. Vir altyd. Intussen steun en kreun die ganse
skepping tot vandag toe soos ‘n vrou wat op die punt
staan om geboorte te gee.”
Roald Amundsen, die eerste persoon om na die
Noordpool én na die Suidpool te reis, het op een van
sy reise ‘n posduif saam met hom geneem. Daardie tyd
was daar nie kommunikasie tegnologie soos vandag nie!
Toe hy uiteindelik die Noordpool bereik, het hy die duif
uit sy hok vrygelaat. Kan jy dink watter vreugde
Amundsen se vrou moes beleef toe die duif uiteindelik
bokant hulle huis gesirkel en geland het. Sy het geweet
haar man leef en hy het die Noordpool bereik.
Sy is getroos deur die teenwoordigheid van die duif.
Die duif is ook die simbool van die Heilige Gees uit die
Woord van God. Die teenwoordigheid van die Gees gee
ons troos en laat ons uithou en aanhou in die skepping
wat swaarkry, en ons wat saam met die skepping swaarkry.
Al lyk dinge dikwels chaoties in hierdie wêreld, het die
dissipels van destyds, en ook ons wat dissipels is in hierdie
tyd, die voortdurende herinnering deur die Heilige Gees
dat Jesus lewe, en oorwinnend aan die regterhand van
God sit. Die Heilige Gees is soos die “Duif van God”.
Hy herinner ons dat God by ons is! In ons! Deur die Gees!
Charles Haddon Spurgeon het gesê: “So seker as wat God
se kinders ook in die vuuroond beland,
net so seker is Hy daarbinne by hulle!”
Onthou die woorde aan die einde van vers 20:
God gee die belofte van hoop!
Ernest