Dit is belangrik om daarop te let dat nie net die
mens swaarkry nie, maar ook die skepping.
Ons het ook ‘n groot aandeel in die swaarkry van
die skepping. Dink maar aan besoedeling, die verhitting
van die atmosfeer, die uitroei van reënwoude, en baie
ander maniere hoe ons die skepping verniel. En ons kry
daarom ook swaar saam met die skepping.

Romeine 8:23-25 sê hoe ons ook swaarkry saam met die
skepping, en watter vooruitsig ons hierin het as kinders
van God: “Dit is nie net die skepping wat swaarkry nie.
Ons kry ook swaar. Al het ons die Heilige Gees as ‘n offer
uit God se hand ontvang om ons te verseker dat God se
nuwe wêreld op ons wag, sug en kla ons ook. Ons sien uit
daarna dat God ons van hierdie sterflike bestaan sal kom
verlos. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer Hy terugkom
en voor almal kom sê dat ons aan Hom behoort. Omdat ons
klaar deur God gered is, wéét ons dat ons ‘n plek sal hê in sy
nuwe wêreld. As ons nou al hierdie nuwe wêreld kon sien,
sou ons mos nie altyd daarop gewag het nie. ‘n Mens sien
tog nie uit na iets wat jy reeds het nie, of hoe? Maar nou
weet ons dat ‘n nuwe lewe by God op ons wag, ook al kan
ons dit nog nie sien nie. Daarom wag ons geduldig totdat
dit aanbreek.”

Christene, kinders van God, gaan na God toe. Ons gaan
daagliks na Hom toe, en ook eendag vir altyd. Dit is die sin
en betekenis van die lewe saam met God.
Nou belangrik: in hierdie “gaan na God toe” loop Christene
op dieselfde grond waarop elke ander mens ook loop, ons
asem dieselfde lug in, drink dieselfde water, koop by
dieselfde winkels, betaal dieselfde pryse, is bang vir dieselfde
gevare, beleef dieselfde druk en stres, ervaar dieselfde pyn
en verlies, het dieselfde verhoudingsprobleme, kry dieselfde
siektes, en gaan ook dood.

Maar die verskil is dat ons God in al hierdie dinge
verteenwoordig. Dat ons daarin getuies vir Hom is in ons
hantering daarvan. Die verskil is dat met elke tree wat ons as
Christene loop, elke asemteug wat ons inasem, weet ons dat
ons bewaar word deur God. Ons weet ook ons word vergesel
deur God. Ons weet ons word geregeer deur God.

Hoe weet ons dit? Die Heilige Gees wat in elke gelowige woon,
herinner ons daaraan en leer ons daarvan. Dit het die bekende
Britse prediker, W. E. Sangster, laat besluit om op te tree soos
die Gees Hom lei en leer, veral in swaarkry. Toe hy gehoor het
dat hy aan progressiewe spier-atrofie ly, het hy vir homself ‘n
lysie gemaak van hoe hy sy swaarkry wil probeer hanteer onder
leiding van die Gees. Dit is eers na sy dood in sy Bybel gevind.
Voor dit het niemand daarvan geweet nie. Sy familie en vriende
kon op sy begrafnis getuig dat hy tot op die dag van sy dood
daarby gehou het. Die lysie het só gelyk:
1. Ek wil nie kla nie. 2. Ek wil opgeruimd bly en die lewe vier.
3. Ek wil my seëninge tel, elkeen wat nog oorbly. 4. Ek wil soek
na die goedheid wat God hieruit wil laat voortkom.

Kom ons hanteer ons swaarkry deur die krag wat die Heilige
Gees ons gee. Kom ons hanteer dit met grasie,
en met getuienis tot sy eer!

Ernest