Romeine 8:26-27: “Intussen het God sy Gees aan ons
gegee om ons in ons swakhede te help.
Ons grootste swakheid is dat ons nie aldag weet wat
ons moet bid nie.
Maar in sulke tye bid die Gees self vir ons.
Hy vertaal al ons swaarkry in hemelse taal.
Hy gaan sug en kla namens ons daar by God.
En omdat God die Heilige Gees deur en deur ken,
weet Hy presies hoekom sy Gees so ernstig vir ons bid.
En God weet ook dat die Gees altyd volgens sy wil vir
al die gelowiges bid.”
Ons leer iets oor die Heilige Gees in L. P. Hartley se
aangrypende boek “The Go-between”.
Die Heilige Gees is die tussenganger, die “Go-between”,
tussen God en ons. Hy lewer God se Woord by ons af,
en Hy lewer ons gebede by God af. Soms weet ons in
moeilike tye regtig nie wat en hoe om te bid nie.
In sulke tye kan ons opnuut besef die Heilige Gees
dra ons sugte oor, en ons woorde, interpreteer dit
volgens God se wil, tolk dit, en sit dit oor in hemeltaal.
Dit is wonderlik dat bogenoemde teks sê die Heilige Gees
“vertaal al ons swaarkry in hemeltaal. Hy gaan sug en kla
namens ons daar by God.”
Dink weer aan hierdie wonderlike teks in jou swaarkry tye.
So dra en troos die Heilige Gees ons!
Seën ook ander mense deur hulle met hierdie teks te
bedien in hulle swaarkry tye.
God het “sy Gees aan ons gegee om ons in ons swakhede
te help”, en ook in ons swaarkry.
Ernest