Romeine 8:28 laat jou dink aan die gunsteling
sê-ding van baie mense: God kan met ‘n krom
stok ‘n reguit lyn trek. Of soos ander sê:
God kan met ‘n krom stok ‘n reguit hou slaan.
In ‘n studie oor 300 suksesvolle mense is bevind
dat ‘n kwart van hulle fisiese gebreke gehad het.
En ‘n drie-kwart is of in armoede gebore, of het
uit ‘n gebroke huis gekom, of een of ander baie
ontstellende situasie beleef. So, byvoorbeeld,
was Franklin D. Roosevelt een van die mees
inspirerende leiers ten spyte daarvan dat hy
polio gehad het. Ludwig van Beethoven was een
van die beste komponiste, ten spyte van doofheid!
Dit is wat God met ‘n “krom stok” kan doen.
Dit gee ons hoop in enige situasie om te weet dat
God ons in sy hand hou, en Hy wil iets doelgerigs
met ons doen. Hy kan en Hy sal.

Handley C. G. Moule het gesê: “There is no situation
so chaotic that God cannot from that situation,
create something that is surpassingly good.
He did it at the creation. He did it at the cross.
He is doing it today”.
Dit is vandag nog God aan die werk in ons lewens!

Wat sê Romeine 8:28 hieroor? “Ons kan nou van
een saak seker wees. God gebruik elke ding wat in
ons lewens gebeur om sy doel te bereik. Vir ons wat
vir God liefhet, werk alles tot ons beswil uit”.
Vir wie geld dit? Vers 29-30: “Dit geld natuurlik vir almal
wat Hy volgens sy ewige plan gekies het om in Hom te glo.
God het elkeen wat Hy vir Hom uitgesoek het se lewe
nuutgemaak. Nou kan hulle die beeld van sy Seun
weerkaats. Wanneer hulle in Christus se voetspore stap
en soos Hy leef, wys dit dat hulle aan God se nuwe familie
behoort. En Christus is natuurlik die heel belangrikste
Persoon in hierdie nuwe familie. Toe God besluit het wie
almal aan sy familie sal behoort, het Hy hulle persoonlik
op hulle naam geroep. So het hulle sy kinders geword.
Verder het Hy almal wat Hy geroep het,
ook vrygespreek van hulle sondes.”

Glo jy in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser
en Here? Volg jy Hom onder leiding van die Heilige Gees,
soos dit God se wil is?
Dan is al bogenoemde van die nuwe lewe in Hom,
reeds vir jou waar in hierdie lewe!

Ernest