Wanneer alles donker en uitsigloos lyk, byt vas!
Ons kyk vandag na die laaste drie verse van die
wonderlike Romeine 8 wat gaan oor ‘n lewe deur
die Gees, die heerlikheid van ons toekoms saam
met God, en dat niks ons van die liefde van God
kan skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus
ons Here. Romeine 8:37-39 word in Die Boodskap
so vertaal: “Al gebeur hierdie verskriklike dinge
met ons, is ons nogtans oorwinnaars. Ons deel in
Christus se reuse oorwinning omdat Hy ons baie
liefhet. Daarom is ek heeltemal seker dat niks wat
met ons gebeur ons ooit van God se liefde kan skei
nie. Nie eers die dood , of enige iets in hierdie lewe
nie. Ook nie slegte engele of ander bonatuurlike
magte nie. Ook nie iets wat dalk vandag of môre
met ons kan gebeur nie. Ook nie enige buitengewone
kragte nie. Selfs nie die hoogste berg of diepste see
hier op aarde nie. Letterlik niks in hierdie skepping
kan ons ooit van God se liefde skei nie. Hy het vir ons
kom wys hoe lief Hy ons het toe ons Here,
Christus Jesus, in ons plek doodgegaan het”.
Winston Churchill het aan die einde van die
Tweede Wêreldoorlog ‘n ete bygewoon waar ‘n Britse
man gesê het: “At the Battle of the Bulge we had
evidence that the British soldiers were braver than the
Nazi soldiers. The Battle of the Bulge proved that”.
Daarna het Churchill geantwoord: “That’s not true.
The Nazi soldiers were just as brave as the British
soldiers. But the British soldiers were brave for
five minutes longer”.
Paulus sê iets hiervan in verse 37-39. Wanneer alles
donker en uitsigloos lyk, byt vas! Moenie tou opgooi nie.
Net mooi niks kan jou ooit skei van die liefde van God
wat daar in Christus Jesus vir jou is nie. Net mooi niks!
Hy sal daar vir jou wees, deur alles wat met jou gebeur.
Hou net nog ‘n paar minute langer uit, elke keer,
en jy sal dit opnuut ervaar,
want jy is oorwinnaar saam met Christus Jesus!
Ernest