Die Bybel begin met die woorde:
“In die begin het God die hemel en die
aarde geskep”. Hierdie heel eerste vers
in die Bybel maak alreeds die grootste appél
op ons geloof. Die Heilige Gees oortuig jou
om te glo dat God alles uit niks geskep het.
Die totale kosmos. En as jy dit kan glo,
kan jy enige iets in die res van die Bybel glo.
Dit is die Heilige Gees wat jou die geloof gee.
Dan glo jy ook Jesus is uit ‘n maagd gebore,
en het uit die dood opgestaan, en het
wonderwerke gedoen.
Nou gaan God verder in Genesis:
Hy vorm die mens uit stof van die aarde.
So beskryf Genesis 2 die skepping van die mens.
Soos iemand gesê het: God gebruik sommer
‘n handjievol bo-grond as Hy die mens maak.
En hierdie einste grond-mensie, in sy nietigheid,
word dan deur God self aangestel om saam met
God oor sy aardse skepping te heers!
God dink so baie van die nietige mensies soos ons,
dat Hy ons aanstel om sy skepping namens Hom
op te pas! Vandag nog! Ons is nie onbelangrik in
God se oë nie, selfs al voel ons party dae soos
‘n handjie vol grond.
Vir God het ons altyd groot waarde! Hy beskou ons
as die belangrikste van al sy skeppingswerke.
Ons moet saam met Hom sy skepping waardeer
en keer dat dit verwoes word.
Ons grootste taak is om God in en deur sy skepping
te loof! Ons hele lewe, en hoe ons die skepping
waardeer en oppas, moet ‘n loflied aan God wees.
Ernest