Genesis 3:23 sê: “Daarom het...God die mens
weggestuur uit die tuin...”
Dit is wat met die eerste mensepaar gebeur het.
Hulle het die kans van ‘n leeftyd wat God hulle
gegee het deur hulle vingers laat glip. Dit was om
vir altyd saam met God te wandel.

Hulle ongehoorsaamheid dompel egter hulle
lewe in sonde. Die ergste is dat dit nou die hele
menslike geslag se erfenis sou wees. Hulle sonde
is hulle nalatenskap aan die wêreld.

Maar daar is goeie nuus. God het besluit om die
mensdom weer ‘n kans te gee! Dit sou nou buite
die tuin wees. Maar in sy genade is dit weer ‘n kans.
Ons het dit glad nie verdien nie. Dit is eenvoudig
omdat God se hart van liefde steeds vir sy stukkende
skepping klop.

God is vandag nog goed vir sy handewerk wat so
maklik en so dikwels met ‘n gebalde vuis na die
hemel toe leef...
Ons kry vandag weer ‘n bonus kans omdat God
genadig is. ‘n Verdere geleentheid om saam met
God besig te wees met sy herskeppings werk!
Ons kan hierdie kans uit die hemel met albei
hande aangryp. Ons kan lewende getuies wees
van God se genade.

Maar sommer gou-gou moes God weer vir die
mens Kain in 4:9 vra: “Waar is jou broer Abel?”
Skaars was die mens buite die paradys, of die
moordseisoen het aangebreek. En vandag nog
moor die mense mekaar... vandag nog het niks
verander nie! Lewe het goedkoop geword.
Maar God duld dit nie. God haat steeds sonde!
God sal altyd mense met bloed aan hulle hande
tot rekenskap roep. “Waar is jou broer...?”

Ons kan nie op regs-tegniese punte verby God
kom soos dikwels in die wêreld gebeur nie.
Hoe tree ons op teenoor ons medemens?
Ons slaan dalk nie letterlik dood nie,
maar hoeveel karaktermoorde pleeg ons.
Hoeveel keer is ons deel van ‘n proses waarin
mense stukkend gebreek word?
Hoeveel lewensruimte skep ons vir mense?
Hoeveel laste van mense help ons dra?
Dit is wat God vandag nog van ons vra.
Waarvoor wag jy? Gryp elke kans aan
wat God jou gee!

Ernest