Staan vandag by God. Staan elke dag by God.
Dit gaan baie erg as God die dag sê dat Hy spyt
kry oor iets wat Hy gedoen het! Dit is presies
wat gebeur het in die tyd van Noag. Sonde was
so gewild dat God eenvoudig ‘n streep getrek het.
God was jammer dat Hy die mens geskep het!
Nog erger: God was diep bedroef oor sy skepping
van die mens...
Dit is verskriklik dat mense se dade God so kan
ontstel dat Hy hulle eenvoudig voor sy aangesig
wil wegvee. As ons net dink hoe groot God se
genade en liefde vir ons is, dan besef ons hoe erg
die mens God kan teleurstel...
God besluit om die aarde met water te oorstroom.
Maar weereens sien ons hoe God se liefde en genade
net groter is as wat ons ooit kan besef of dink.
Hy sien Noag raak tussen al die mense wat Hom
verwerp. Soos Henog, het Noag saam met God bly
wandel. Een ligput in die donker wêreld. Een man
wat staan tussen die aarde se vernietiging en die aarde
se voortbestaan.
God sien geloof raak. Hy ontferm Hom oor daardie
stippeltjie lig in die groot donkerte.
Ons raak maklik mismoedig met die wêreld rondom ons.
Dit voel of ons net leef te midde van sonde en ongeloof.
Ons is regtig besorg oor die welstand van mense en
verlore mense. Ons wonder waar dit gaan eindig.
Maar Noag leer ons om volhardend by God te staan.
God sien jou raak wat by Hom staan, soos Noag, en soos
Henog wat saam met Hom wandel.
Ons moet net aanhou doen wat reg is. Moenie maar net
saam met die res doen wat hulle doen nie.
Moenie ingee of opgee nie.
God sien raak wat jy doen en doen baie groter daarmee
as wat jy ooit kan dink. Hy sal jou ook nooit in die steek
laat nie, en jou nooit verlaat nie. Hou aan om te doen
wat God vra. Al doen jy dit vingeralleen in jou konteks
waarin jy leef. Soos Noag van ouds. God bly getrou.
Hy sal groot doen met dit wat jy vir Hom doen!
Bly die sout en die suurdeeg en die lig vir die wêreld.
Ernest