Genesis 7:5 sê: “Noag het alles gedoen
soos die Here hom beveel het.”
In Noag se lewe sien ons dat geloof partykeer
van jou vra om die menslik onmoontlike vir
God te doen. So was dit met Noag.

Om ‘n reuse boot in die middel van ‘n droë
landstreek te bou maak geen sin nie!
Om boonop vir almal rondom jou te vertel
daar kom binnekort groot oorstromings in
hierdie droë landstreek, is eenvoudig gek!
Dit is vir die mense lagwekkend! Dit moes
leeuemoed van Noag vra.
Dit vra onverskrokke geloof in God!

Maar Noag doen dit. Hy doen wat God van
hom vra ten spyte van wat ookal. Al het die
mense hom uitgelag en gedink dat hy sy kop
verloor het, het hy maar net aanhou bou.
Totdat die reën begin val het. En die reën
aangehou val het. En die spotstemme
uiteindelik dood-stil geword het...dood...stil.

Om alles te doen soos die Here jou beveel,
vra toegewyde gehoorsaamheid. Dit vra vaste
geloofsoortuiging. Dit vra dat jy die Onsienlike
moet kan sien. Dit vra dat jy moet loop waar
ander nie wil of kan loop nie. Jy moet dinge kan
hoor waarvoor die wêreld doof is. Jy moet
ingestel wees op God se hemelse frekwensie.
Jy moet meer sien as die wêreld rondom jou.
Jy moet die hemelse koninkryk raaksien.

Dit is soos om walvisse op die see te gaan kyk.
Hulle is daar, jy weet dit, maar jy moet doelgerig
en fyn kyk totdat jy die beweging sien,
die water wat spuit, die vin wat uitkom
en weer verdwyn...

Agter al die dinge van die wêreld het Noag vir
God raakgesien.
Kyk met ‘n geloofsoog soos Noag.
Doen vandag wat God van jou vra.
Selfs al spot die wêreld rondom jou met jou.
Die wêreld was verkeerd, en Noag was reg.
Bly staan by God!

Ernest