Moenie dink jy weet dit en neem maar net weer
‘n keer kennis daarvan nie. Hoor dit weer vars
en nuut soos die eerste keer wat jy dit besef het:
God is genadig!
God dink met ‘n sagte hart aan sy skepping en sy
skepsels.
Genesis 8:1 sê: “Toe het God gedink aan Noag en
aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom
in die ark was...”
God se hart is sag. Altyd. Hy vergewe maklik en
straf baie moeilik. God red vinnig en vernietig stadig.
Hy het baie geduld. Sy hart is vol ontferming en medelye.
Daarom hou God op om water uit die hemel op die aarde
uit te giet. Hy sien sy kind Noag en die diere in die ark raak.
Hy het medelye met hulle in hul omstandighede. Noag en
sy mense en die diere was nou al 150 dae in die ark.
En daar was nog geen land in sig nie. Dit is reddingstyd in
God se plan met die mensdom. God spaar die mens!
En die dier. Die skepping.
God se goedheid en genade troef altyd sy straf.
Elke liewe keer! Want dit is hoe God is.
Hy is die God van liefde. Sy liefde is so groot dat Hy die
mens eens en vir altyd kom red in Christus!
Sy eie en enigste Seun. Die duurste prys!
Hy kom red ons van die dood. Jesus is God se finale
antwoord op die sonde en die dood.
Dit is sy onteenseglike bewys dat Hy ons sonder enige
voorwaardes liefhet en ons uit genade alleen red.
Jesus wys dat God barmhartig en genadig is.
Geen wonder dat God vir Noag en sy familie kom red
het nie.
God het nog gladnie verander nie, en Hy sal nooit
verander nie. Dit is wie God is! Daarom kan jy op God
se liefde en genade vir jou reken. Jy kan dit weet dat
Hy elke dag sy hand van liefde, en genade, en redding
na jou toe uitsteek. Neem dit. God se hand is sag...
want in Jesus is sy hart vir jou ook sag.
Ernest.