Hoogmoed is die oersonde.
Reeds in die paradys luister die mens na die slang om
“soos God te wees deurdat julle alles kan ken.” Die mens
wou nou God wees. Die Nuwe Lewende Vertaling sê:
“Julle sal dan net soos God alle kennis hê.” Die mens kon
dit nie weerstaan nie. Om God te wil wees!
Vandag nog is hoogmoed die sonde van die mens.
Om jouself belangriker of beter te ag as ander mense.
Om neer te kyk op ander mense. Om selfgerig te wees
is ook hoogmoed. Om selfsugtig te wees is hoogmoed.
Ons kan maklik ander van hoogmoed beskuldig en self
oorloop van hoogmoed. Kyk mooi na jou eie lewe.
Wie is in die middelpunt daarvan?
Die mens leer ook nie sy les by die paradys nie.
Genesis 11:1-5 vertel die verhaal. Die toring van Babel.
So vol was die mens van homself dat hulle dink hulle
kan ‘n toring tot teen die hemel bou om God te onttroon!
Moenie hulle te vinnig oordeel nie. Hoeveel keer onttroon
ons nie die Here in ons eie harte nie, en klim self op die
troon van ons lewe. Praat van arrogansie by Babel...
én by óns!
Vandag nog wil ons mag uitoefen oor ons eie lewens
in plaas daarvan om oor te gee aan God. Terwyl die mense
van Babel hulle eie toring gebou het, het God op ‘n dag
gaan kyk na wat hulle doen. Genesis 11:5 sê:
“Die Here het afgekom om te kyk na die stad...”
Insiggewend is die woorde “die Here het afgekom”.
So klein en onbelangrik is hulle poging in God se oë dat
Hy moes afkom om te kyk. Hy moes afkom om hul bouwerkie
raak te sien. Selfs hul grootste poging in hulle hoogmoed is
pateties klein voor God. Dit is niks...werd.
Verwaande mense wat meen hulle kan God se mag uitdaag.
Maar dit is ook insiggewend met hoeveel hoogmoed ons
hierdie gedeelte lees en vir daardie mense “lag” terwyl ons
self met hoogmoedige harte rondloop. God kyk ook neer op
ons hoogmoed! Tot vandag toe nog walg dit God wanneer
mense so vol van hulleself is dat daar geen plek vir Hom in
hulle lewe is nie. Of baie min plek soos met so baie van ons.
Mense, ons, weier steeds so dikwels om net voor God te buig
en jou hele lewe aan Hom oor te gee. Daar is nog steeds dele
in ons lewens waar ons “regeer”.
Wees vandag wys en buig laag voor God. Moenie te veel van
jouself dink nie. Romeine 12:3 “...Moenie van jouself meer
dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop
toe om beskeie te wees...”
Die suiwerste vorm van hoogmoed is om te dink jy is die
nederigheid self. Ondersoek jouself eerlik voor God.
C.S.Lewis het gesê: “Solank hoogmoed in ‘n mens se hart
woon, kan jy God nie sien nie. Hoogmoedige mense sien
immers neer op alles en almal. En as ‘n mens altyd afkyk,
kan jy natuurlik nie sien Wie bo jou is nie!”
Ernest.