Ons hoef seker niks vir Noag oor water te sê nie.
Hy het die mees skrikwekkende vloed ooit beleef
en oorleef. Hy het bly leef om die storie te vertel
en te getuig van God se goedheid.
Hoeveel keer het ons nie al dinge oorleef om dan
van God se goedheid en genade te kan getuig nie.
Nie omdat Noag, of ons, so slim of oulik is nie.
Allermins. God is maar net goed vir Noag en
vir ons. Hulle kon weer begin.
Hoeveel keer het God nie ook al met ons weer
begin nie. Van voor af. Oor en oor. Nog ‘n kans.
Nog genade.
En dan nog met al sy beloftes aan ons. Weer ‘n keer.
In Genesis 9:11 sê Hy: “Ek sal my verbond met julle
hou: mens en dier sal nie weer deur vloedwaters
uitgewis word nie.” God sal nie weer ‘n wêreldvloed
stuur nie. God hou sy woord.
Jy kan aan God se beloftes vir jou vashou.
Daar sal altyd weer genade wees vir ons. Vir alle mense.
Reddingsgenade in Jesus Christus. Ons almal het verdien
om verswelg te word. Die mens werk ook nog elke dag
hard aan selfvernietiging... ons vergader vir ons ‘n skat
van toorn en straf. Maar nogtans waarborg die Here sy
goedheid en sy redding wanneer die mens na Hom toe
draai. Hou vandag vas aan die Here se reddingsboei.
Help ander mense wat sinkende is om die Here Jesus
se reddingsboei vas te gryp!
Tot redding vir elkeen wat dit glo!
Ernest