God het weer van voor af begin met die wêreld
deur een man, Abram. Hy was God se nuwe begin
met die mens na al die chaos en ellende in die
wêreld met die toring van Babel en die taalverwarring.

Abram moes egter ‘n drastiese geloofstap neem om in
antwoord op God se roepstem te reageer. Hy moes
alles wat bekend is agterlaat om aan God se roeping
te beantwoord. Dit bevestig ook wat ‘n dissipel is.

God loop soms vreemde paaie met mense. Vandag nog
moet mense dikwels groot stappe neem om aan God
se roeping te beantwoord. Maar as dit die prys is wat
God vra ter wille van sy koninkryk en die uitbreiding
daarvan, dan moet sy mense eenvoudig daardie offers
bring. God is nie plekgebonde soos ons nie.
Sy koninkryk is oor die hele aarde.

Abram het geantwoord op God se roeping:
“Abram het toe weggetrek, gehoorsaam aan die woord
van die Here...” – Genesis 13:18. Abram word geroep
om God se grondgebied vir Hom terug te wen. Hy is
daarom altyd die minste wanneer sy eie grond ter
sprake is. Daarom het Abram ook vir Lot die beste
grond aangebied toe hulle besef het die land waar hulle
bly was te klein vir albei. Abram wou nooit vir homself
‘n koninkryk bou nie. Hy was die bouer van God se
koninkryk wat alle aardse koninkryke oorskrei.

Abram kom gou agter die mense van sy nuwe
landgebied ken nie vir God nie. Tog hou hy vas aan God
se beloftes vir land, vir hom en sy nageslag. Toe Abram
in Mamre gaan bly, het hy besluit om daardie grond vir
die Here op te eis. Hy het ‘n altaar vir die Here daar opgerig.
Al loop daar vandag ook nog baie ongelowige voete oor
God se grond, kan ons as God se kinders dit steeds vir God
terugwen deur ons lewe en getuienis. Ons word ook,
soos Abram, geroep om God in hierdie wêreld te
verteenwoordig. Kom ons gaan wen grond vir God!

Ernest