Is jy ook soms regtig bang? Dalk ‘n vreemde geluid
wat jou slaap onderbreek. Of ‘n vreemdeling wat
jou by jou hek inwag? Of wat met jou werk gaan
gebeur? Aflegging of nie? Of dat ‘n geliefde van jou
in ‘n ongeluk kan sterf?
Baie Bybel-figure het ook vrees geken. Abram ook.
Daarom het die Here op ‘n dag na hom toe gekom
met die woorde van Genesis 15:1:
“Moenie bang wees nie, Abram, Ek beskerm jou!”
Gelowiges se knieë kan ook knak. God moes ook vir
Abram optel en hom moed inpraat. Hy het ernstig
begin twyfel aan God se beloftes. Hy het begin
wonder waar die wonderlike nageslag is wat God
belowe het. Hy en sy vrou was nou al baie oud en
steeds kinderloos.
God kom ons tegemoet in ons kleingeloof. Gelukkig.
En Hy dra ons met die woorde: Moenie bang wees nie!
Moontlik het jy dit ook vandag broodnodig om hierdie
woorde van die Here aan jou te hoor. En hoeveel keer
sê God nie in die Bybel vir ons om juis nié bang te wees
nie! Hoor dit vandag as jy twyfel, of wanneer jou geloof
min is, en jy bang is. Die Here is steeds by jou! Hy laat
jou nooit uit sy hande glip nie. Skep moed en leef voluit
in vertroue op Hom!
Onthou dat jy die Here se eiendom is!
Ernest