Ons dink dikwels dat ons makliker sou glo,
en sterker sou glo, as ons hemelse openbarings
sou ontvang. Dit is ongelukkig nie so nie.
Of is dit nou gelukkig?
Neem nou maar vir Abram. Toe God vir die
hoeveelste keer in ‘n openbaring aan hom verskyn,
en weer ‘n keer sy beloftes aan Abram bevestig dat
hy ‘n nageslag sou hê, het Abram op sy knieë neergeval
en begin lag! En dit was nie ‘n vrolike lag nie, maar ‘n
sarkastiese lag. Hy het by homself gedink dat God nie
mooi besef wat Hy sê nie! Hy en sy vrou was nou al oud,
en wat swangerskap betref heeltemal oor die muur.
Daarom het Abram maar sy noodoplossing aan God
voorgestel: hy sal maar Hagar se seun as sy erfgenaam
beskou.
Abram se kleingeloof het God glad nie beïndruk nie!
Om Abram die res van sy lewe hieraan te herinner,
moes hy sy kind wat gebore sou word Isak noem!
Isak beteken: “Hy het gelag!”
Ons twyfel ook dikwels aan God se beloftes.
Ons sal dit nie sê nie, maar ons lewe wys dit.
Ons lag eintlik maar in ons mou vir God...
Ons kom ook, soos Abram, met ons eie
noodplanne na God toe.
Ons verwag niks meer buitengewoon van God nie.
Ja, selfs openbarings laat mense nie noodwendig glo nie.
Kyk maar na Abram. Ons moet eenvoudig vir God op sy
woord neem dat niks vir Hom onmoontlik is nie.
Vertrou Hom onvoorwaardelik as jou God! Leef naby
aan Hom. Wees opreg. Dit is wat Hy van jou verwag.
Hy sal doen wat Hy beloof. Dit is wat Hy waarborg!
Genesis 17:1: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My
en wees opreg!”
So sal jou lag in ongeloof verander na ‘n lewe in geloof!
Ernest