Wêreldse vryheid is nie ware vryheid nie,
maar lei op die ou einde tot slawerny.
Om “vry” te wees met die doel om te leef
soos jý wil, is op die ou einde niks anders nie
as om ‘n slaaf van jouself en die sonde te wees.
Menslike vryheid is altyd ‘n paspoort tot sonde.
Wanneer jy vry wil wees om te sê net wat jy wil,
en te doen net wat jy wil, dan het die sonde
beheer oor jou. Dan het jy reeds die geveg verloor!
Slegs wanneer God mens vrymaak, is jy waarlik vry!
En die pad na hierdie soort vryheid loop altyd deur
geloof wat God as gawe aan jou gee. Dit loop nooit
deur menslike dade nie. So skryf Paulus ook in
Romeine 4:3: “Abraham het in God geglo, en daarom
het God hom vrygespreek.”
Paulus sê dan verder dat Abraham die voorbeeld is
vir ons almal wat glo. Hy is nie gered omdat hy so
oulik was of goeie dinge vir God gedoen het nie.
Nee, net omdat Abraham volledig op God vertrou het,
kon hy reg leef soos God dit wou hê.
Geloof gaan altyd enige goeie werke vooraf.
Goeie werke is uit dankbaarheid vir God wat reeds in
geloof ontmoet is. God het altyd ook self die eerste
inisiatief geneem om geloof te skenk. Alles begin by
God en groei deur God. Ons kan nooit deur eie
inisiatief ‘n tree voor God wees, en goeie dinge doen
wat Hom dan beïndruk nie. Nee, God neem inisiatief
en skenk alles! Ook geloof, wat lei tot goeie dade,
uit dankbaarheid!
Goeie dade sê dankie vir die redding deur God!
Ernest