Romaine 5:1: “God het ons dan nou vrygespreek
omdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen
ons en God deur ons Here Jesus Christus.”
Vrede! Dit is die grootste versugting van ons wêreld.
Almal smag na ware innerlike vrede. Rondom ons is
net tekens van onvrede. Mense vernietig mekaar.
Harmonie is skaars. Alles lyk so hopeloos op die gebied
van vrede. Daar is egter een uitsondering:
God het van sy kant af vrede met ons kom maak!
By die kruis het God die Bose oorwin. Daar het Jesus
die oordeel van God gedra. Daar het God se haat vir die
sonde op sy eie Seun neergekom! Daar het Jesus se
bloed gevloei en vir ons betaal.
Nou vir die goeie wonderlikste nuus!
As jy in Jesus Christus glo, het God vrede in jou lewe
gebring. Hy het sy woede oor jou sonde in Christus
stilgemaak. Die verhouding tussen God en ons word
deur vrede van God se kant af gekenmerk. God het
jou vrygespreek! Glo hierdie goeie nuus met jou hele
hart en leef in vrede met God, ook van jou kant af.
God was bereid om na ons toe te kom toe ons nog
sy vyande was – vers 10. Hy het sy Seun vir ons laat
sterf toe ons regtig magteloos was. Ons is nou kinders
van God! Nuwe mense omdat God ontsettend lief vir
ons is. Sy redding en ontferming is net uit genade.
Leef daaruit in vrede!
Ernest