Ons geheim is dat ons ‘n aardse adres én
‘n Goddelike adres het!
Dit is die betekenisvolle geheim van ‘n Christen
se lewe! Kyk hoe aangrypend begin Paulus sy
Brief aan die Efesiërs: “Ek, Paulus, wat spesiaal
deur Christus Jesus as sy boodskapper gestuur is
omdat God dit so wou hê, het hierdie brief geskryf.
Dit is bedoel vir God se mense in Efese, almal wat
in Christus Jesus glo. Mag God, die Vader, en die
Here Jesus Christus vir julle goed wees, ver meer
as wat julle verdien. Mag Hulle vir julle vrede gee
soos net Hulle kan. – Ef. 1:1-2.

Let op die woorde: “...vir God se mense in Efese,
almal wat in Christus Jesus glo.”
Paulus skryf aan mense wat in Efese én
in Christus woon! In Efese. In Christus.
Elke Christen het ‘n aardse adres én ‘n Goddelike adres.

Alister Maclean vertel van ‘n vrou wat ‘n baie moeilike
lewe gehad het. Sy het egter altyd vrede en vreugde
uitgestraal. Toe sy na haar geheim uitgevra is het sy
geantwoord: “My secret is to sail the seas, and always
keep my heart in port.”
Ons kan die rofste omstandighede in die lewe tref,
maar ons harte is veilig in God, in Christus. Waar ons
ookal is, onder watter omstandighede ookal, by watter
adres ookal, ons is altyd ook nog...in Christus!
Dit is die betekenisvolle geheim van ‘n Christen se lewe!

Ernest