Efesiërs 1:3 sê dat God ons geseën het “...met al
die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is.”
Die Boodskap vertaal vers 3 so: “Laat ons nie ophou
om God, die Vader van ons Here Jesus Christus,
te loof en groot te maak nie. Omdat ons Jesus s’n is,
het God ons – wat eintlik niks was nie – baie belangrik
kom maak. Hy het vir ons al die geestelike dinge gegee
wat by God die moeite werd is vir ‘n mens om te hê.”
Dit help ons om te verstaan wat die “seëninge van die
Gees” is “wat daar in die Hemel is.” – vers 3.

Volgens Paulus is daar sewe seëninge van die Gees wat
ons ontvang het:
Die eerste is in vers 4 – jy is deur God gekies. Jy is God se
geliefde. Jy kan dit nie verklaar of daaroor spog nie.
Hy kies jou op grond van sy liefde, en nie ‘n prestasie van
jou kant af nie!
Die tweede is in vers 5 – oor Jesus het God jou as sy kind
aangeneem! Jy kan God Vader noem. Jy is deel van God
se familie. Daarom is jy baie spesiaal.
Die derde is in vers 6 – jy leef uit genade.
Die vierdie seëning van die Gees wat in die hemel is,
is in vers 7 – jy is gered en vergewe!
Die vyfde is in vers 8-10 – jy het insig in God se plan.
Jy besef as gelowige dat Hy die hele wêreld in sy hand hou,
ongeag hoe dit hier op aarde mag lyk. Elke stukkie
geskiedenis skuif ons nader aan die wederkoms. Dan sal
elke knie buig en erken dat Jesus die Here is.
Die sesde seëning van die Gees is in vers 11 – jy is ‘n burger
van die hemel, van God se koninkryk. Jy staan uit as ‘n
Jesus volgeling.
Die sewende is in vers 14 – jy is ‘n erfgenaam van God!

Die Heilige Gees wat in ons woon is self die waarborg van
al hierdie waarhede.
Dit is jou status in Jesus. Dit laat jou leef! Dit laat jou besef
dat niks jou van God kan skei nie!

Ernest