Wat doen ons as kinders van die Here met die
seëninge van die Gees wat daar in die hemel is,
en wat ons van God ontvang het?
Let op wat doen Paulus nadat hy al hierdie seëninge
uitgespel het:
Hy dank God daarvoor en bid dat God deur sy Gees
vir ons die kennis sal gee om op grond van hierdie
seëninge reg te lewe soos God dit wil hê!
Efesiërs 1:16-17: “Nou sê ek vir God dankie vir mense
soos julle, elke keer wanneer ek bid. Wees verseker:
Ek vergeet julle nie wanneer ek bid nie. Ek vra God,
ons wonderlike en groot Vader, die God van ons Here
Jesus Christus, om deur sy Gees vir julle die kennis te
gee wat julle nodig het om in hierdie lewe reg op te tree.
Ek vra ook dat julle Hom al hoe beter sal leer ken deur
alles wat Hy vir julle sal duidelik maak.”
Paulus vra hier dat die Gees (letterlik die Gees van wysheid),
wysheid aan gelowiges sal skenk. Hierdie wysheid dui op ‘n
praktiese verstaan van wat God in Jesus gedoen het.
Daarom is wysheid ook die kuns om as gehoorsame kinders
van God te leef in hierdie wêreld.
Wysheid stel ons in staat om te weet dat God altyd voor ons is,
en dat ons wil leer waar God besig is en hoe ons deel daarvan
kan wees.
Mag God ons regtig seën met die wysheid waarvoor Paulus bid,
sodat ons die seëninge van die Gees wat in ons is,
prakties vir God sal uitleef, elke dag!
Ernest