In Efesiërs 1:19-21 praat Paulus van die
groot krag van God wat in ons werk.
Hy bid dat ons sal agterkom dat die krag
van God wat in ons werk sterker as enige
iets anders is! Ons het gesien hoe geweldig
daardie krag regtig is toe God Jesus uit die
dood laat opstaan het en vir Hom die
belangrikste plek in die hemel gegee het.

Daardie selfde krag werk ook in ons as Christene.
Niemand of niks sal ooit belangriker of sterker as
Jesus kan wees nie. Nie nou nie, en nie in ewigheid
nie!

Ons leef nie voluit nie, en ons waag nie vir God nie,
want ons dink te klein oor God, en die krag van God
wat in ons werk!

Vers 22 sê God self het vir Jesus die magtige posisie
gegee om oor alles en almal te regeer.
Nou leef Jesus in ons! Dink net weer ‘n slag mooi
Hieroor na: Dink net wat God vir en in jou kom doen
het in Christus!
Ons was soos dooie mense as dit by God en sy
koninkryk gekom het. Ons het selfgerig gelewe.
Elkeen sy eie god. Dit is eintlik maar die storie van ons
almal se lewens. Ons het gedink en gedoen net wat
ons wil. Op ons almal het net die ewige straf gewag.

“Maar God...” Efesiërs 2:4 sê “Maar God...”
Maar God het met sy krag na ons gekom en alles
verander! Sy krag wat in ons werk! Dit is twee
lewensveranderende woorde: “Maar God...”
God het dit alles verander deur sy krag wat in en
deur ons werk!

Ernest