God hou nie van mure nie.
Dit is juis wat Efesiërs 2:14 kom sê.
Dit sê dat Christus alle mure wat daar
tussen mense was, kom afbreek het.
Ons moet ook mure tussen mense afbreek.
Vers 14 sê: “Jesus is die ware vredemaker.
Hy is die Een wat vrede kom maak het tussen
die Jode en die wat nie Jode is nie. Die vyandige
houding, wat soos ‘n groot muur tussen ons
gestaan het, het Jesus tot op die grond afgebreek.
Nou is daar niks meer wat ons in groepe verdeel nie,
maar ons is een groep, Jesus s’n. Om dit vir ons reg
te kry het Jesus sy lewe gekos.”

Christene, kinders van die Here, kan nie meer
bekostig om te praat van óns en húlle nie.
Die teks sê “nou is daar niks meer wat ons...
verdeel nie.”

Die Berlynse muur is ‘n goeie illustrasie van wat
mure aan mense doen. Berlyn is na die Tweede
Wêreldoorlog in twee dele verdeel. Oos- en Wes
Berlyn. Op 13 Augustus 1961 is die Berlynse muur
tussen die twee dele opgerig. Families en vriende
is letterlik, ja letterlik, oornag van mekaar geskei.
Vir meer as 28 jaar kon hulle nie bymekaar uitkom
nie. Op geen manier nie! Hartseer moes hulle op
een of ander manier van mekaar hoor, soos met
die afsterwe van geliefdes. Uiteindelik is hierdie
muur op 9 November 1989 afgebreek. Dit was
wêreldwyd nuus dat menslikheid hierin oorwin het.

Tog bou so baie mense steeds mure.
Tussen kulture, rasse, ryk en arm...en nog meer.
Kom ons bou doelbewus brue, en breek mure tussen
mense af. Ons kan nie as God se kinders mure bou
tussen ons en ander mense nie. Ons moet getuig,
en dien en God se koninkryk uitbou oor alle menslike
grense heen.

Om dit vir ons reg te kry het Jesus se lewe gekos!...
sê vers 14.

Ernest