Ons weet Jesus het nie net vir ‘n sekere groep
mense na hierdie wêreld gekom en aan die
kruis kom sterf nie. Tog leef en praat ons in
ons eie land asof sekere groepe nader aan Jesus
is en ander groepe verder, en dit het dan niks
met geloof te doen nie. Hoe is dit moontlik dat
ons steeds so kan praat en optree , en tog
anders bely as ons oor geloofsoortuigings praat?
Efesiërs 2:15-18 praat baie sterk hieroor.
Jesus het al die Joodse wette van sy tyd wat van
een mens ‘n Jood gemaak het en van ‘n ander
mens nie, eenkant toe geskuif. Hy het een nuwe
groep mense kom maak! Hulle wat Hom volg!
Maar dit is nie al nie. Jesus het verder gesorg dat
daar vrede kom tussen God en hierdie groep
mense wat nou een groep is, die volgelinge van
Jesus. Hiervoor was Hy bereid om sy lewe aan
die kruis te gee! Jesus het die goeie boodskap
gebring dat daar vrede in die wêreld gekom het.
Die vrede wat Hy gebring het.
Die vrede is nie in Jesus se tyd bedoel net vir
die klompie Jode nie. Dit was en is ook vandag
nog bedoel vir almal in die wêreld wat so ver van
God af is dat hulle niks van Hom weet nie!
Jesus het gekom om vir almal die pad na God toe
oop te maak.
Deur die Gees kan ons nou ervaar hoe naby God
regtig aan ons gekom het. Ons moet hierdie
boodskap uitleef en uitdra na alle mense,
tot redding en nuwe lewe vir elkeen wat sal glo
dat Jesus die Here en Verlosser is!
Ernest